Haar storie
“Hoeveel kinders het jy?”wou ek weet. Haar antwoord was vreemd. “Een wat nog leef.” Toe maak sy die hoofstuk op ‘n skrefie oop. Sy was maar 27 toe haar eerste man en 2 dogtertjies verongeluk het. Net sy en haar seuntjie het oorgebly. Haar oë kyk ver terug. Dan vertel sy hoe haar pa langs haar op die bed kom sit het. Hy het gesê dat dood en verlies deel is van ons lewe en dat rou is soos ‘n sak klippe wat om jou nek hang. Hy het haar hand gestreel en haar laat belowe dat sy op elke dag wat goed is, ‘n klip uit die sak sal haal en dit agter haar sal gooi sonder om om te kyk.
Haar woorde raak my diep. Sommige mense het hoofstukke waarvan min mense weet. Sommige sleep swaar sakke saam. Klippe wat rondom die nek bly hang. Watter groot stuk genade as mens dit kan regkry om klippe uit te gooi en aan te beweeg.
Soms juig ons saam oor goeie nuus en ander dae huil my hart saam as die hartkloppie stil raak en die kamera sonder ‘n kiekie neergesit word. Die lewe wat voortgaan al word drome begrawe.
Wat weet ons tog van ander mense se binnekamers? Hoe min lees ons regtig raak op Instagram en Facebook.
Wees sag met ander mense, is die oproep. Vra uit hoe dit gaan en maak tyd om te luister.
Die tannie glimlag effens terwyl sy deur haar boek blaai. Sy het weer gelukkig geword en getrou. Later haar seun verloor en weer gesukkel met ‘n sak klippe om die nek. Nou het die oom haar nodig na sy beroerte. Ek hoor die besorgdheid in haar stem en sien die sagte plooitjies om haar mond. Lyne wat ander stories vertel. Haar boek nie ‘n fiksie verhaal nie. Real life. Vashou aan genade – om te bly lewe.
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien….”, onthou ek my nuwejaarsvers. Nuwe krag, vars genade. One day at a time. Klippe uitgooi as die dag beter lyk. Al manier om vorentoe te beweeg. Vashou aan hoop.
“Hy gee die vermoeides krag. Hy versterk die wat nie meer kan nie.” Jesaja 40 se belofte. Jy loop nie alleen nie.
Op ‘n manier word haar storie ‘n inspirasie vir ander.