Die strepie wat ons lewe noem
“Die Here het gegee, en die Here het geneem. Prys die naam van die Here.” Die woorde op haar ‘status’ raak my hart.
Wanneer ‘n kind ontydig sterf, raak dit die hele gemeenskap. Dit laat die lewe ‘n oomblik pause. Jy huil saam met die ouers en worstel met dieselfde vrae. Onderliggend kom die gedagte: Wat as dit my kind was? Op ‘n manier bly dit almal se vrees. Daardie oproep wat jou lewe verander. Die pilaar uit jou huis ruk en jou geloof skud. Jy word herinner aan die lewe se onvoorspelbaarheid. Dat tyd kosbaar is en jy nie jou kinders in die huis ‘for granted’ moet vat nie. Die eerste skooldag foto’s en almal om jou tafel. Êrens hang daar vandag ‘n skoolbaadjie in die kas.
Wanneer jy eerlik daarna kyk, besef jy dat Job reg was. Dat jy kaal in die lewe inkom, en kaal uitgaan. Dat jou kinders bloot geskenke is. Die Here gee en die Here neem, al maak dit nie altyd sin nie. Al voel jy om te baklei met al die waarom’s in jou binneste.
Wanneer ek later met die mamma gesels, is haar vreugde oor sy lewe groter as haar verdriet. Die feit dat sy hom vir 18 jaar gehad het, haar kosbaarste troos. Sy kry dit reg om op ‘n manier haar seerkry met dankbaarheid te vervang. Dit maak my stil en met nuwe oë kyk. Na die strepie wat elkeen van ons kry. Die strepie van die lewe tussenin.
As my dogter my nooi om ‘n vroegoggend bergstappie saam te doen, gryp ek dit aan. Die lewe in die strepie, die kosbare tye saam spandeer, skielik kosbaarder as die wasgoed wat nog opgehang moet word. Wanneer my seun saam my Kaap toe ry, raak die geselskap ‘n kosbare oomblik wat ek bêre in my hart. Ons lewe nie net vir eendag nie. Jy studeer nie net vir ‘n beroep nie. Kinders word nie net geleer om later iets te bereik nie. Elke dag bestaan uit oomblikke wat deel vorm van die groter prentjie. Ons lewe is nooit “te kort” as ons kan leer dat elke dag geleenthede is nie. Of jy jonk of oud is.
Wanneer die matriekuitslae kom is ek dankbaar oor my eie kind se prestasies. Sy harde werk het mooi vrugte gepluk. Ek lees in die koerant van kinders wat kon uitstyg uit moeilike omstandighede en steeds presteer. Ek sien gesigte van die room van die land wat met harde werk onderskeidings uitryg. Die skadukant is egter ook waar. Nie almal wat hard werk, presteer nie. Net so kan punte getel word maar eienskappe soos omgee en “kindness”, kan nie gemeet word nie. Dan herinner ek my kinders opnuut aan die AA reel. Om Altyd in Alles jou Allerbeste te doen Asof vir die Allerhoogste. Dis die ware maatstaf. Blom soos net jy kan!
Huldeblyke oor die seuns se lewe stroom in. Boetie en sussie kry dit reg om vir hul broer sy wedloop te gaan hardloop. Hartseer gesigte tree aan en begin stadig uit die blokke. Hoe verder, hoe meer voluit. Die eindstreep word met intensiteit bereik. Emosievol. Op ‘n manier ‘n ‘celebration’ van hul ouboet se lewe.
My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus behoort. Die lied van ouds bly die goue draad wat ons herinner waar ons fokus te midde van alles moet bly. Tussen kinders grootmaak, tussen sport en aktiwiteite, tussen die ekstra wiskundeklasse, die akademiese balkies, die onderskeidings wat jy bereik, die graad wat jy behaal, die werk wat jy doen en die hoogtes wat jy bereik. Ons prioriteit as ouers moet wees om ons kinders na Jesus te lei.
Kaal kom ons in die die lewe, en kaal gaan ons daaruit. Mag ons elke dag ons strepie leef. Ongeag hoe lank of kort. Hierdie dag is deel van die strepie. Make it count! As ek aan Jesus behoort, is my tyd veilig in Sy hand.
“Om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Paulus se getuienis in Filipense 1:21.
Die strepie tussenin vorm deel van ‘n groter prentjie