Fietspad na die dam

Die foto van die dammetjie was mooi. “Waar’s dit?”, wou ek weet. “Kom ek gaan wys jou”, was sy antwoord.

Dit was nie so eenvoudig nie. Dit sou beteken dat die hardloper uit haar comfort zone beweeg en ‘n fietsryer word. Van haar woudtyd verruil vir wingerdtyd. ‘n Pet met ‘n fietsryhelmet vervang en uiteindelik op haar seun se fiets moet ry.

Ek het ingestem. Uiteindelik.

Ek was verstom oor die goed gemerkte paadjies. Pyltjies wat presies wys waar ons mag ry. Tussen wingerde en bospaadjies en verby dammetjies het die roete gevloei. Dit was mooi. Duidelik het mense met ‘n visie hierdie aanmekaar gesit. Tot voordeel van so baie. Prediker se woorde het in my kop gekom. “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.”

In die begin van die jaar het ek by my kinders die rede vir doelwitte uitgestippel. Om dit neer te skryf sodat dit jou verantwoordbaar kan hou. Om vorentoe te beweeg het jy nodig om te weet waarvoor jy werk. Akademies, sosiaal, sportief en geestelik. Nuwe paaie word nie oornag gebore nie.

Nie almal kry dieselfde geleenthede nie. Sommige paadjies is moeiliker as ander s’n. My hart breek wanneer ek die groep mans langs die pad sien staan wat wag vir werk. Dis egter die man met die bordjie om sy nek, by dieselfde verkeerslig, maar in die middel van die kruising, wat my meer laat wonder. Wat is die verskil tussen hom wat vra en hulle wat wag? Miskien is dit gesondheid maar dalk is dit die woordjie hoop. Hoop vir werk, hoop verloor.

Wat motiveer jou om bo te kom? Harder te leer en dalk te gaan studeer? As dit net is sodat jy nie ook eendag by ‘n verkeerslig moet staan en wag vir werk of aalmoese nie, is dit ‘n hartseer saak.

As jy bloot net werk vir ‘n salaris, mis jy iets. Gaan die ‘joy’ vinnig verdwyn en jy waarskynlik nooit tevrede gaan slaap nie. Dis die mense wat jou pad kruis, wat ‘purpose’ gee. Die voorreg wat jy het om ander te ontmoet. Dalk ‘n kykie in hul lewens te kry, te help waar jy kan, te bou waar nodig. Jou gawes en talente te gebruik om die lewe vir ander mooier te maak.

Soms moet jy uit jou comfort zone beweeg en die lewe uit ‘n ander hoek sien. Die nuwe jaar se knoppie pause en weer “reset”. Purpose begin deur vandag aan te gryp. Weer te probeer. Wanneer jy moeg en oorweldig voel vas te gryp aan Sy belofte: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.”  2 Petrus 1:3

Fietspaadjies begin met ‘n droom en ‘n visie maar beteken net iets as dit  realiseer. Sekere dammetjies kan net met ‘n fiets bereik word. Om net te werk vir ‘n salaris sonder om ‘n verskil te probeer maak, sal jou nooit versadig maak nie. Om daagliks op te staan sonder om die dag aan te gryp, laat jou dalk eendag terugkyk en wonder waarheen tyd verdwyn het.

Minder tyd op jou foon, meer tyd in vars lug. Dalk dit waag op ‘n fiets.

Die dammetjie was mooi. Die dag was goed. Iemand se visie het gehelp dat ander iets kon beleef. Uit hul comfort zone.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories