Refleksie
Terwyl die son stadig begin sak vir die einde van die jaar is dit goed om ‘n oomblik te ‘pause’ en terug te kyk. Wanneer ek deur my dagboek blaai, kom ek op die gebed af wat ek verlede jaar met oujaar gebid het. Dat die Here my kinders soos wilgerbome sou laat groei. Dat Hy volop water vir die dorsland sou gee, strome vir die droë grond. (Jesaja 44 se beloftes).
Ek kyk terug en sien die rye voetspore. Soms langs my, ander kere waar ek gedra is. Woestyntye waar water onverwags uitgeborrel het en groen tye waar daar oorvloed was. Die boompies wat soms moes beur teen die wind, hul wotels dieper moes stoot maar met groen blare die jaar kan groet. Dit maak my dankbaar.
Dankie Here vir nog ‘n genadejaar. Waar ons verjaarsdae kon vier, ‘n familiefees kon hou, mooi dinge kon beleef en selfs die Springbokke se wêreldbeker kon vier. Dankie dat ons deur opdraendes kon beur om nuwe hoogtes te bereik. Waar ek kon leer om deur geloof te lewe, nie deur te sien nie. U was altyd daar.
Op die laaste Saterdag van die jaar raak ek stil. Buite is dit grys. Sagte reën maak die gras nat. My tekkies bly ‘n slag in die kas. Soms nodig om net te stop. Wat kies ek om te lees, wat kies ek om te glo. Wat kies ek as ek die nuwe jaar gaan binnestap. Om terug te kyk en God se sorg raak te sien is nodig om die nuwe jaar te kan instap. Wat sien ek raak as ek vorentoe kyk?
Die verkenners het almal terug gekom en vertel. Die manne het ‘n slegte gerug versprei dat die land wat hul gaan verken het, ‘n land is wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak en dat die mense wat hul daar gesien het, almal baie groot was. “Daar was ook reuse en ons was soos sprinkane in ons eie oë….” Numerie 13:32
Kaleb se gesindheid was anders. (Num 14:24). Hy kon dit regkry om met ander oë te kyk. Om te onthou dat dieselfde God wat hul uit Egipte gelei het, hierdie land aan hul beloof het. Daarom,”omdat hy My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het.”
Kersdag se boodskap was dat God met ons is. Immanuel. Dis wat ons gevier het. Tog word ons dikwels maar soos die verkenners wat so fokus op die reuse en uitdagings in ons land en in die wêreld, dat ons in die proses vergeet wie saam met ons stap. Word ons sprinkane in ons eie oë. Mag ons waak watter gerugte ons versprei. Ons God is groter as al die reuse rondom ons.
Kaleb en Josua het anders gekyk. Hulle gesindheid was die verskil tussen sukses en mislukking.
Wanneer ek my gebede neerskryf en later terugkyk, is ek dikwels verstom oor die Here se sorg. Die groter prentjie wat ek eers later raaksien. Terugkyk en onthou help ons om die nuwe jaar anders binne te gaan. Dit herinner ons aan God se getrouheid en raak die vertrekpunt van die nuwe reis.
Refleksie laat nie net die son sak nie. Dit skep die verwagting van ‘n nuwe dag wat wag. Vars genade. Nuwe hoop. Dieselfde God van gister, ook in môre.
“Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie. Moenie skrik nie.” Deut 30:12
Sy belofte ook vir 2024.