Die groter plan

Een van my gunsteling boekies om vir my kinders voor te lees, was die storie van Hermie, die vaal wurmpie. Keer op keer het hy met die Here geworstel hoekom hy net ‘n gewone wurmpie is en nie so spesiaal soos sy vriende nie. Dan het hy hom vergelyk met die mier wat so sterk was, die slak met sy eie huisie en die ‘ladybird’ wat vreeslik mooi was. En daar was hy, net ‘n vaal wurmpie.

Paulus het ook met die Here gestoei. Oor die doring in sy vlees. Drie maal het hy die Here gevra om dit weg te neem, totdat die Here hom geantwoord het. My genade is vir jou genoeg.

Soms sukkel ons om die Here se planne te verstaan.

Terwyl ek die kersverhaal uit ‘n ander hoek bekyk, val die gebeure in Betlehem my op. Vir Josef moes dit ‘n vreemde reis gewees het. Eers het hy in ‘n droom gehoor dat hy nie bang moes wees om met Maria te trou nie. Daarna moet hy die reis aanpak met sy jong swanger vroutjie. Dit word nie makliker nie. In Betlehem is daar nêrens plek om te oornag nie. Het hy dinge verkeerd verstaan? Hoe dan nou Here? Is dit nie veronderstel om ‘n koningskind te wees nie? Daar is min keuses en min genade. Die kindjie moet gebore word en vind Sy rusplek in ‘n krip waar Hy in doeke toegedraai word.

Dan daag ‘n groep skaapwagters onverwags daar op. Hulle is daar om hulde te bring aan die Jesuskind. Hul getuienis oor engele en die kind wat hul in doeke sou vind maak ‘n indruk op beide ouers. Dalk was dit net wat Josef moes hoor. Dat alles gebeur het soos dit moes. Dat die stal nie ‘n fout was nie. Ook Maria se geloof word versterk. “Maria het alles wat gesê is onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.” Die ongewone word deel van die groter plan waarvan hul op daardie stadium min verstaan.

God verseker vir Hermie dat hy nie klaar is met hom nie en Hy leer hom om geduldig te wag. Paulus leer dat God hom kan gebruik te midde van sy swakheid. Jesus se geboorte tydens ‘n volkstelling vind ongemerk , amper toevallig, en tog presies soos dit voorspel was, plaas.

Hermie raak uiteindelik die skoenlapper en Paulus die groot prediker. Ons gebreke is soms ons grootste geskenk. Wanneer ons leer om ons foute in sy hande te plaas, leer hy ons wat hy daarmee kan doen. Dis dan wat ons juis in ons swakheid kan roem omdat Hy ons die krag gee. Soms raak eenvoudige mense soos skaapwagters een van die hoof rolspelers in die verhaal. Juis in hul alleenheid in die donker nag, is dit waar engele verskyn. Onwetend raak hul getuienis die stempel vir ander se geloof.

Soms moet ons geduldig wag en soms moet ons aanvaar wat nie kan verander nie. “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Korintiers 12:9. Christus se krag raak ons beskutting.

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie. Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede en my gedagtes, bo julle gedagtes.

Kersfees laat ons weer die wonder beleef.

“Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding….Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here!”

God se groter plan. Vir Hermie, vir Paulus, vir die herders, Maria en Josef, vir my en jou.

Hy gebruik ons net soos ons is.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories