Drome se impak
Terwyl ek voorberei vir die Kersseisoen, lees ek die evangelie van Mattheus. Met die intrapslag, val drie drome my op. Al het ek die verhaal goed geken, is dit die impak van die drome op die wending van die gebeure, wat my tref.
“Terwyl Joses dit in die gedagte gekry het om sy verlowing met Maria stilweg te verbreek, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn….” Later het ook die sterrekykers ‘n droom ontvang. “En omdat God hulle in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodus toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan…” ‘n Tyd het verloop totdat Josef weer ‘n droom ontvang het. “Daar het ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe….”
Die droom tema neem my gedagtes ver terug.
Toe ek omtrent 10 jaar oud was, het my teorieboeke weggeraak. Ek kan nie onthou wat die presiese situasie was nie. Dalk moes dit in wees vir punte of ‘n toets, maar ek weet dat ek dit móés kry. Wat ek wel onthou, is dat ek orals gesoek het. Later het ek ernstig gebid en die Here gevra om my asseblief te help om my boeke te vind. My soektog het niks opgelewer nie. Uiteindelik het ek moeg, angstig en moedeloos in die bed geklim. My gebede was tevergeefs.
So het ek gedink.
In die nag het ek ‘n vreemde droom gehad. Ek het van my kamer gedroom. My bed en lessenaar. Daarna het ek die deur gesien. Agter die deur het my hout-driepoot-swartbord gestaan. Aan die agterkant van die bord het ‘n geel sak gehang. Binne-in die sak was my groen teorieboeke.
Vroeg die oggend het ek wakker geskrik. Ek het my droom glashelder onthou. Kon dit wees? Het ek gewonder. Ek was amper te bang om te gaan kyk. Tot my blydskap ( en verbasing), was die boeke presies in die sak, agter die bord, agter die deur. Net soos in my droom. Ek het besef dat die Here my gebede met ‘n droom verhoor het. Dit het so ‘n blywende indruk op my gelaat dat ek steeds, amper 40 jaar later, elke detail kan onthou… Daardie dag het ek besef, ons dien ‘n lewende God.
Ek kan nie onthou of ek ooit weer so ‘n duidelike droom oor iets gehad het nie. Deesdae praat die Here dalk meer met my wanneer ek in die nag wakker lê, wanneer teksverse in die Bybel tot my spreek of deur mense en stories op my pad.
Josef en die wyse manne het min verstaan van die groter prentjie agter die skerms. Tog het dit ‘n blywende indruk op hulle gemaak. “Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het om te doen en met haar getrou…..” Die sterrekykers het nie van Herodus se wrede planne geweet nie, maar na hul by die Jesuskind was, het die droom hulle koers verander. Josef se vlug na Egipte het gelei tot Jesus se redding maar ook dat die skrif vervul sou word met die woorde, ‘uit Egipte het Ek my Seun geroep’.
Met al die struikelblokke op die pad, kies die Here drome om by Sy plan uit te kom. Hy kry dit reg om daar te werk waar niemand kan sien nie.
Tydens ‘n kerssangdiens kry die prentjie van ‘n helder ster, wyse manne, herders, ‘n krip en engelekoor, die kern van die kersverhaal, nuwe betekenis vir my. Dit raak ‘n verhaal van die ongewone, waar drome die wending verander sodat Lig die duisternis oorwin.
Ongeag of die Here nog in drome met ons praat, een ding is verseker. Sy droom vir die wêreld het nie verander nie. Die God van gister, is die God van vandag en van môre. Sy groter prentjie strek oor eeue. Oor ons vandag en al ons “môre’s”.
Josef het Hom Jesus genoem. My teorieboeke is gevind. God werk soms op vreemde maniere. Immanuel. God by ons. Vir ‘n dogterjie, ‘n skrynwerker, ‘n ouma, ‘n skoonmaker…ongeag wie jy is. In Sy koninkryk is ons deel van sy planne. Mag Hy ons drome lei…