Deernis

Voor hul in die ry het ‘n groot gesin gestaan. Jy kon sien dat hulle arm was, maar hul klere was netjies en skoon. Die vrou het liefdevol na haar man gekyk en die kinders het gemanierd in die ry gewag. Opgewonde vir die sirkus. Dit was ‘n mooi prentjie. Toe dit die man se beurt was om kaartjies te koop, het hy trots gevra vir 2 volwassenes en 8 kinders. Die kaartjieverkoper het die bedrag genoem. Die man se oë het gerek. Sy vrou het haar kop laat sak. Hy het vooroor geleun om die bedrag te bevestig. Sy skouers het gehang. Agter hom was die kinders onbewus opgewonde, afwagtend vir die sirkus met sy diere en hansworse. Haar pa het die situasie besef. Ongemerk het hy ‘n geldnoot laat val, gebuk en dit opgetel terwyl hy die onbekende man aan die skouer tik. “Ekskuus mnr, ek dink geld het uit jou broeksak geval.” Die man het verbaas omgekyk. Hy het besef wat gebeur het, maar hom in die oë gekyk met ‘n dankbare hart. Hy het sag woorde van dank geprewel, die geld geneem en die kaartjies gekoop. Die pa en sy dogter het ongemerk teruggeloop. Dit was hulle sirkusgeld. Tog was hul harte met soveel vreugde gevul, meer as wat ‘n sirkus ooit sou kon gee.

Die merkwaardige storie wat op facebook gedeel is, raak my hart. Veral omdat een familie iets prysgegee het ten koste van ‘n ander, maar op so ‘n manier dat die arm man sy menswaardigheid kon behou en kinders net kinders kon wees.

By die winkelsentrum waar ek gereeld my kruideniersware koop, staan ‘n karwag dikwels op dieselfde plek. Miskien was dit sy gebreekte arm wat my aandag getrek het, maar so het ons gereeld met mekaar begin gesels. Die laaste twee kere wat ek daar was het ek hom nie gesien nie en het ek gewonder of hy ok is. Vanmiddag groet hy my opgewonde uit ‘n ander deel van die parkeerarea. Hy staan in vir ‘n vriend. Ek noem dat ek bekommerd was oor hom. Skielik raak sy gesig ernstig. ‘Dankie dat ek vir hom omgee. Hy dink dat daar dalk so 7 of miskien 10 mense is wat hier koop wat vir hulle omgee. Hy weet baie mense wil hul eintlik nie daar hê nie.’ Ek raak hartseer, want ek besef opnuut dat alle mense omgeeharte nodig het. Wat so nou en dan wil hoor dat iemand oor hul bekommerd is. Veral hulle wat van ‘n ander land kom, vreemdelinge is en in moeilike omstandighede bly. “Wat ons is, is net genade, wat ons het, is net geleen….”, sing die lied onverwags in my kop. Hoe wonderlik as jy iemand het wat bekommerd is oor jou…

Daar is tye wat ek dit ook nie reg kry nie, waar my hart ook toeslaan en my oë ander pad wil kyk. Tog besef ek meer en meer dat ons geseend is vir een rede: Om ander te kan seën. Soms met geld, ander kere met tyd. ‘n Oor wat luister, ‘n mooi woord, ‘n hand wat aanraak. Ons kan nie alles verander nie, maar ons kan ‘n verskil maak vir die een wat ons pad kruis. Wanneer ons met ander oë na hulle kyk. “Ek was bekommerd oor jou”, het onwetend meer beteken as die geld wat ek daardie dag sou gee.

Jesus het mense innig jammer gekry. Hy het aan melaatses geraak en by die tollenaar se huis gaan eet. Hy het deernis gehad met mense wat swaar kry.

Die Amerikaanse aktrise, Katharine Hepburn was ‘n tiener toe haar pa haar die waarde van gee geleer het. Sy sou waarskynlik lankal die sirkus vergeet het maar die inpak daarvan op ‘n ander gesin, het haar lewenslank bygebly. Sy is op 96 jarige ouderdom in 2003 oorlede, maar haar woorde word steeds gedeel: “The giver is bigger than the receiver. There is always joy in giving. Learn to make someone happy by acts of giving.”

Deernis, die taal van Jesus. Mag ons meer by Sy voete rus sodat ons by Hom kan leer….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories