Die pad vorentoe

Ons het naels gebyt, asems opgehou, gejuig en mekaar omhels. Die reis na die finaal was “tough”. Vir die spelers veral, maar net so vir al die ondersteuners. Toe die eindfluitjie blaas was daar amper eers verligting, toe dankbaarheid en daarna groot feesvieringe. Mense het mekaar omhels. ‘n Wonderlike onthou oomblik waar dit regtig lekker was om ‘n Suid-Afrikaner te kon wees.

Toe breek Maandag aan. Terug werk toe. Jy wou nog huppel maar eintlik was jy moeg. Wat nou, was die stille vraag. Iemand het opgemerk dat ons land hierdie wen die nodigste gehad het. Om herinner te word dat ons kan. Dat daar tussen al die verkeerde politieke besluite, mense is wat kan opstaan en saamstaan. Die skoene was nou aan ons voete. Om met klein treë, groot verskille te maak. Omdat ons kan.

By die werk kon ek nie help om te dink aan al die lewensmoeë mense wat ek daagliks ontmoet nie. Jong mense wat opgewonde uit die skool uit hardloop, aan ‘n loopbaan begin werk, en dan ontnugter word soos die lewe se groot branders oor hul rol. Die probleem is dat ons soms so werk na ‘n oomblik, dat ons die groter prentjie mis. Iemand het eendag gesê: “Our life is not a warm-up run, it is the real race.” Wanneer ons kan raaksien dat ons beroep deel is van die reis, en nie ‘n eindpunt nie, word ons uitkyk anders. Elke werk het immers sy ontnugtering, maar elke werk skep unieke geleenthede waar jy verskillende mense ontmoet. Of jy petrol ingooi, agter ‘n toonbank werk, karre oppas , mense gesond maak of hul belasting uitwerk, elke dag het jy die kans om ander se lewe in te kleur.

Wanneer my kinders hokkie en tennistoernooie speel, is die grootste rykdom nie medaljes wat hul huis toe bring nie, maar vriendskappe wat gevorm word.  Ek lees hoe mooi Kolisi praat oor sy vriende in die ander spanne. Op die veld is hul ysters teenmekaar, maar af van die veld raak hulle broers wat mekaar ondersteun. Dis die mooi van sport. Waaroor die lewe eintlik gaan.

Wanneer ds Deon per geleentheid praat oor rykdom, noem hy dat dankbaarheid nie is wanneer jy ander se ellende raaksien en besef hoeveel jy het nie. Dis immers nie hoe jy daaroor dink wanneer jy jou vergelyk met hulle wat meer as jy het nie. Dankbaarheid is wanneer jy stil word by die Here en besef, wat jy het, is genoeg. “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie….” Dit raak die huppel van jou lewe wanneer jy elke dag met ‘n dankbare hart aanpak. Met ‘n verwagting dat jy genoeg ontvang het om hierdie dag te kan aanpak. Dalk die sleutel hoe om vorentoe te beweeg.

Psalm 23 se vers raak my inspirasie ook wanneer my kinders eksamen skryf. Hulle het genoeg ontvang om hul lewensstaak te kan uitvoer. My gebed verander dat die Here hulle sal help om al hul gereedskap te ontdek en dit dan te gebruik op die pad wat Hy vir hul beplan het.

Ons lewe is ‘n reis. Kolisi noem dat hul 4 jaar baie hard gewerk het vir hierdie oomblik. Die media kan baie skryf oor die Springbokke se tipe rugby, maar niemand kan die intensiteit en passie ignoreer nie. Die wil om te wen vir iets groter as hulself. Passie ontstaan nie oornag nie, onderlinge vertroue word gebou oor tyd. Elke dag het sy trofee oomblikke. Waar ek stilgebly het voor ‘n skewe woord, waar ek aangemoedig het eerder as afgebreek het. Vriendelik gegroet het, ‘n kar voor my ingelaat het. Klein treetjies maak groot afstande.

Die vraag was, wat nou? Noudat ek klaar is met skool, my graad gekry het, afgetree het, die beker ontvang het….nou stap jy vorentoe. Met ‘n dankbare hart. Leer uit jou foute, sien mense raak op jou pad. Leef die wedloop in die seisoen waar jy nou is. Soek waar jy vandag ‘n verskil kan maak. Nemand is ooit te oud of te jonk om saadjies van hoop te kan saai nie. Kolisi en sy span het nie verniet hard gewerk nie. Hulle het gewys dat ons kan. Jy kán as jy begin glo. Ons het alles ontvang wat ons nodig het. Elkeen met sy unieke gawes het die vermoë om in hierdie lewe en in hierdie land ‘n verskil te kan maak.

Die lewe is ‘n reis. Dis nie ‘n opwarming nie. Vandag is jy op die baan. Gaan voluit vir elke geleentheid wat op jou pad kom. Die Here is my herder. Hy gee vir my alles wat ek nodig het.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories