Seëninge

Hy was die jong seun sonder skoene. Wat nie eintlik gespeel het nie. Tot een dag toe ‘n sendeling uit Amerika in Lagos, Nigerie opgedaag het. Hy het basketbal in die park aangebied. Die jong seun wou graag saam speel, al was dit sonder skoene. Dan gebeur die wonder. Hy word raakgesien. Die sendeling beloof dat die beste doelgooier daardie dag skoene sou wen. Dit word sy eerste skoene en die eerste tekkies vir hulle in sy gesin. So begin sy lewe rigting kry, word hy aangemoedig om in sy drome te glo en verwerf hy later ‘n sportbeurs by ‘n College waar hy sy vrou, Tracy ontmoet. Latere jare word hy, Manny Ohonme, die stigter van Samaritan’s feet. Om vir ander kinders skoene en menswaardigheid te gee.

Die storie raak my. Hoe wonderlik as jou ‘blessings’, vir ander ‘n seëning kan word.

‘n Vriendin deel ‘n kosbare gedagte oor tyd. Eintlik ‘n gedig wat geskryf is deur Professor Fika Janse van Rensburg. In kort sê hy dat ons kan probeer om tyd ‘te traai tronk’ en tydperke tydelik te troef. Net tot op ‘n punt. Daarom, kan jy liewers vrede vind in die wete dat God in Christus, tyd getroef het. Maak dus jóú tyd, Sý tyd….dan kry jy dit reg om tot God se eer te lewe en jou roeping te vervul.

Die woorde beteken baie vir my. Veral wanneer jy besef dat tyd aanstap. Ek lees Prediker se gedeelte in dieselfde lig. Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed. Leef is die sleutel. Hoop is die antwoord.

Met my verjaarsdag raak ek doelbewus stil. Ek ‘pause’ om terug te kyk en word bewus van God se hand in my lewe. So baie dinge waaroor ek net dankbaar kan wees. Ek dink aan soveel mense wat oor die jare ‘n verskil in my lewe gemaak het. Van die Kinderkranstannie, onderwyseresse, vriendinne, predikante, kollegas. Hoe ingevleg is ons lewe tog nie. Ek dink aan my tema van klippies van hoop. Die rimpels wat ons wetend, maar meestal onwetend op ander se lewens maak. Deel raak van mense se stories. Dan raak ouderdom nie ‘n bedreiging nie. Dis saaigrond. Ploegtyd.

Siya Kolisi se storie word ‘n inspirasie. “It is not just about overcoming adversity but finding purpose and meaning in that adversity. ” In die artikel, Siya Kolisi’s story offers valuable lessons in resilience, noem die skrywer, Tinashe Timothy Harry dat ons lewens soos ‘n legkaart is met verskillende stukkies. Sommige veroorsaak probleme of risiko’s terwyl ander ons veilig hou. Al hierdie stukkies help uiteindelik om ons lewens te vorm. Siya het terug gebons van moeilike grootword jare. Hy het geleenthede aangegryp en selfs ‘n Kolisi foundation gestig. “The journey from adversity to triomph is not complete until others are uplifting.”

Terwyl ek werk aan my praatjie vir ‘n funksie, met die tema, hoe om positief in ‘n negatiewe wêreld te wees, is dit presies hierdie stories wat my help. Keuses om op te staan, uit ‘n ander hoek te kyk, na mense se stories te luister. Hoop te kies, te midde van. Wanneer ons besef dat ons seëninge ontvang om ook vir ander tot seën te wees, raak ons lewens anders ingestel, raak prestasie anders gedrewe. Dan raak die vraag: “hoe wil die Here my op hierdie pad gebruik?”, belangriker as die volgende hoogte wat ek moet uitklim.

Kyk ek terug na my lewe, is ek dankbaar. Tog besef ek dat my doelwitte baie groter raak. Om te saai en te plant. Ons leef immers nie net om ‘ouderdom te troef’ nie. Ons leef om ‘n verskil te maak.

Die jong seun se tweede kans het hom terug gelei na kinders sonder skoene in Afrika. Hoe sou die sendeling wat vroeg in sy lewe daardie verskil gemaak het, ooit kon voorsien waarheen een daad van hoop sou lei. Die sportafrigter wat Siya ‘n kans gegee het, sou nooit kon droom dat hy eendag die Springbokkaptein sou word wat ander kinders laat droom nie. Elke ding wat ons doen het die vermoë om ‘n rimpel effek te maak.

Kies vandag die lewe. Sien jou seëninge raak en saai met jou gawes en talente. Maak jóú tyd, Sý tyd. Dan kry jou lewe sin en betekenis, ongeag hoe oud of jonk jy is….Rimpels van hoop begin met ‘n klippie van geloof.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories