Meer as dit
Hy was die topstudent in Suid-Afrika met agt onderskeidings. Daarna was hy die topstudent in regte in die land. Hy het sy BCom en LLB-graad cum laude ontvang, sy meestersgraad in België verwerf en uiteindelik die jongste regsstudent geword wat sy doktersgraad in Suid-Afrika gekry het. Ockert Potgieter. Sy storie fasineer my.
Op 28 jarige ouderdom was hy ‘n uiters suksesvolle regsadviseur en dosent aan ‘n universiteit. Hy het alleen in sy huis op die leerbank gesit en by homself gewonder: Is dit nou dit? Is dit al wat daar in die lewe is? Daardie gedagtes was die keerpunt vir hom. Die begin van ‘n radikale U-draai tot hy later voltyds in Ukraïne gaan bly het om daar ‘n verskil te maak. Ver weg van die “doktor” wat hy was. In uiters moeilike omstandighede waar hul hard moes werk om ‘n bestaan te maak, begin hy sy roeping uitleef. Om mense vir Jesus te red. Wanneer Michelle roerend haar storie in die boek, Sonneblomme en sneeu vertel, kry ons ‘n ander kant van sukses in God se oë.
Iemand maak nou die dag die stelling dat ons niks saam met ons kan neem as ons doodgaan nie. Wat ons wel agterlos, is ons nalatenskap. Die impak wat jy op mense gehad het. Hoe jy hulle laat voel het. Watter verskil jy gemaak het. Ek wonder of dit aansluit by die skatte wat ons in die hemel moet bymekaar maak, eerder as op aarde.
Tydens die roudiens van ‘n vriendin word ek verras deur haar CV op aarde. Hoofmeisie in die laerskool en hoërskool, Primaria van haar koshuis, provinsiale kleure in 4 sportsoorte. Geliefd en bemind deur baie. Tog het sy in nederigheid geleef. Sonder pretensie oor haar vorige prestasies. Sy was kleurvol en vol energie al het die donker aan haar deur kom klop en die lig uitgedruk. Haar nalatenskap word kosbaar besing. Die rimpel effek van haar lewe, baie meer waarde as een donker dag.
In ons besige tye met ons kinders bekla ds Jannie Pelser die feit dat kinders by sommige skole nou al Sondagaande oefen vir die week se wedstryde. Sondae word die leerdag vir toetse. Die kerk verloor nog meer van sy impak op die jeug omdat daar bloot nie tyd is nie. Ons gejaag na wind het die gevaar om kinders sonder ‘n basis groot te maak.
Agt onderskeidings, topstudent, hoofmeisie, provinsiale kleure…..alles goeie mylpale om te bereik. Tog is die geen waarborg van ewige geluk nie. In die wêreld se oë het Ockert dalk sy kanse weggegooi. Al sy talente en prestasies in Ukraïne vermors. As jy die sin van die lewe mis, baat prestasies jou niks. Ockert het met vreugde en ywer sy reis voltooi. Sy nalatenskap dalk in siele eerder as bankstate gemeet. Die vriendin se Bybel het haar anker gebly, te midde van haar donker tye. Prediker beveel vreugde aan. Eenvoud. Kyk ek na die kompeterende tenniswêreld, lees ek iets daarvan raak wanneer Nadal praat oor sý sukses resep: Hy het vreugde in sy tennis ontdek. As ons net kan leer om die lewe met groter eenvoud aan te pak. Basics te kan reg kry, sonder om al ons geluk in die prestasiehouer te bêre.
“Meer as rykdom, meer as mag, as die skoonheid van sterre in die nag, meer as wat ons ooit op aarde wen, is dit werd, o Heer, om U te ken….” Die lied se woorde tref my opnuut.
Die sleutel van ons bestaan. Om te ontdek wat werklik belangrik is in God se oë. Dis wat ons kinders moet hoor. Meer as alles, is dit werd om Jesus te ken.