Twee stories

Hy was die slagoffer van ‘n boelie episode by die skool. Ek het hom ‘n bietjie uitgevra: ‘Nee, hy doen nie sport nie, want hy is nie goed daarin nie en die onderwysers raak vinnig kwaad. Hy hou wel van skaak, maar sy mamma dink dis tydmors, nou speel hy dit maar op die rekenaar. Een van die dae gaan hy na ‘n nuwe skool… ‘Ek kon nie help om te wonder wat anders in die nuwe skool sou wees nie. Sy ouma het saam gesug en die medisyne vir die seerplek geneem. Ek het ‘n drukkie vir die lyfie gegee en in my hart ‘n stille gebed dat ‘n mamma sy drome sou raaksien.

In dieselfde week lees ek ‘n onverwante storie op ‘n vriend se facebook. Oor ‘n pa wat onderneem het om vir sy kinders die geheim van die lewe te leer wanneer hulle 12 jaar oud word. Toe die oudste seun die mylpaal bereik, het hy vol verwagting na sy pa gegaan. Tot sy verbasing het die pa hom na die stalle geneem en ‘n vreemde stelling gemaak: ‘Koeie gee nie melk nie.’ Die seun het verdwaas na sy pa gestaar. Die pappa het verder verduidelik. Die geheim van die lewe is dat as jy melk wil hê, jy vroeg in die oggend moet opstaan, die koei gaan haal en jou hande gebruik. Self, gee koeie nie melk nie. Om iets te bereik, moet jy daarvoor werk.

Ek dink aan die twee seuns en wonder waar die stories bymekaar inpas. Dalk in ons universele soeke na geluk, aanvaarding en sukses in die lewe. Soms lê die antwoord nader as wat ons dink. Dalk in die hand wat ‘n koei moet melk of ‘n meesterskuif op ‘n skaakbord moet maak.

Tydens die hoërskool se musiekblyspel verkyk ek my aan al die deelnemers, die helder kleure en ritmiese danspassies. Tog is die grootste genot nie die eindresultaat van musiek en dans nie, maar die kamerade van harde werk wat vriendskappe word. Baie wat op die kantlyn bly staan kyk met verlangende oë, maar besef nie dat jy eers ontvang wanneer jy bereid is om van jouself te gee nie. Dit kos soms sweet en trane, vroeg opstaan en moeite om by die soet smaak van sukses te kom. Die skoenlapper wat op jou skouer kom sit wanneer jy ophou soek, maar bloot jou passies begin leef.

Soms maak ons die fout om ons geluk met ander s’n te vergelyk. Dan kyk ons na ‘n mooi foto en sien die perfekte prentjie raak sonder dat ons weet wat regtig voor of na die foto gebeur het. Die meetstok is dikwels ‘n halwe waarheid of net ‘n stukkie van ‘n groter prentjie. In die proses mis ons uit op die mooi wat ons self ontvang het.

Kyk ek na my eie kinders is dit my gebed dat die Here eie drome in hul harte sal plaas. Dat hy hul sal help om hul energie in die regte rigting te stoot en dat Hy hulle teen sinnelose begeertes sal beskerm. Ek bid dat elkeen hul uniekheid sal sien as ‘n gawe van bo sonder om hul voortdurend met ander te vergelyk. Geluk is binne almal se bereik as ons leer om met tevredenheid te lewe. ‘n Mens ontvang wanneer jy leer om te gee. Koeie gee net melk as jy bereid is om jou hande te gebruik.

Dan blaai ek na Mattheus 5:3 en maak ‘n wonderlike ontdekking: “Gelukkig is die mens wat weet hoe nodig hulle God het.” Tussen al ons soeke na geluk, sukses en aanvaarding bly dit die heel belangrikste. In ons val en opstaan en aanhou probeer, bly dit die platvorm. Wanneer ons dít besef kry geluk ‘n nuwe woord, geseënd…

Ja, geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is…. Ware geluk.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories