As die wind waai

Ek kan nie onthou wanneer laas die wind so erg gewaai het nie. In die nag lê ek en luister hoe alles ruk en swaai. Ek is dankbaar dat ons huis stewig staan, maar kan my indink hoe erg dit moet voel in ‘n sinkdak huisie. Ek wonder hoeveel dakke en bome êrens in die slag gaan bly. Hoe nietig is die mens tog nie as die natuur praat nie. Ons kan tegnologies so ver ontwikkel wees, maar as die vloede kom, die brande onbeheers raak, die tornado’s en tsunamies verniel, raak ons en ons besittings nietig en klein.

In die week lees ek in Jakobus dat ‘n arm mens moet bly wees, omdat sy aansien in die Here lê, en dat een wat ryk is, dat hy voor God gering is. Tussen al sy bedrywighede vergaan hy gou. As die son met sy gloeiende hitte opkom, val die blomme af en is die prag daarmee heen. Ek kan nie help om te dink aan die Titanic en jare daarna die submarine ramp nie, waar al die vooruitgang, geld en weelde, soms net nie genoeg is om die mens lewend te kan hou as teëspoed opduik nie.

Nikodemus verstaan nie die evangelie nie. Dan gebruik Jesus die beeld van die wind. Ons weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. Tog voel en hoor ons hom. Geloof….

Die natuur maak my bewus van God se grootheid en my geringheid. Psalm 8 besing dit mooi. Wat is die mens dan dat U aan hom dink? Die mensekind dat U na hom omsien? (Tog) laat U hom heers oor die werk van u hande…..tot die storms kom.

Jesus stel voor dat die dissipels saam met hom na die oorkant vaar. Wanneer ‘n hewige stormwind op die meer losbars begin die skuite vol water raak. Lukas beskryf die situasie so, dat hul in lewensgevaar was. Die ervare seemanne raak beangs, hul eie pogings is verniet. Ironies, kry Jesus dit reg om deur al die gevaar te lê en slaap. Dis in hul angs wat hul onthou van Hom in hul midde, hom wakker maak en angstig uitroep dat hul besig is om te vergaan. Markus stel die vraag direk: “Gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Jesus op, bestraf die wind en golwe en dit raak kalm. Dan kom Jesus se vraag: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Die dissipels het verskrik en verbaas gelyk. “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Ek wonder oor Jesus se vraag. Was die feit dat hul saam met Jesus in die boot geklim het en hom wakker gemaak het in hul benoudheid, nie genoeg nie? Waar het hul geloof tekort geskiet? Ons klim immers ook gereeld in Jesus se boot, gaan kerk toe, sing uit volle bors en raak opgewonde oor die evangelie. Dan, wanneer die lewe se golwe oor ons slaan, roep ons net so hard na Hom in ons benoudheid. Dikwels raak ons ook so gefrustreerd wanneer dit voel of Jesus slaap. Dan wil ons uitroep, kan U nie sien wat gebeur nie? Die dissipels slaan die spyker op die kop in hul twyfel. “Wie kan Hy tog wees?” Ek wonder of ons meer dikwels godsdiens speel, maar die God mis. Henog het met God gewandel….Noag het sonder ‘n storm in sig, ‘n boot gebou. Ons wil in Sy boot klim en veilig vaar. Die dissipels klim ook in, maar weet steeds nie wie Hy is nie. Dalk is dit hoekom ons geloof bly wankel. Omdat Hy keer op keer net ons reddingsboei bly. Omdat ons vergeet dat ons in goeie tye ook met Hom moet wandel. Hom moet ontdek op droë grond voor die storms kom.

Glo is om te erken dat God bestaan. Dit beteken nie dat ek dinge self moet regkry nie. Dit keer nie noodwendig die storms nie. Glo is om na Jesus te draai. Om my vrede by hom te soek. Om te wéét by wie ek skuil.

Soms het ons geen beheer oor die storms wat buite woed nie. Is dit genade as jou huis stewig staan terwyl die stormwinde woed. Jakobus gee ‘n wenk dat ons standvastig moet bly as versoekings op ons pad kom. Wanneer ons ons aansien in Hom vind, raak prestasie minder belangrik. Wanneer ons besef dat ons, te midde van al ons kennis en alles wat ons besit, gering is in Sy teenwoordigheid, word ons skatte in die hemel meer.

Jesus nooi ons in die boot saam met hom maar Hy nooi ons veral om saam met hom te wandel. Hy waarborg nie dat daar geen storms gaan wees nie, maar dat Hy by ons is. Hy vra geloof in wíé Hy is. Wanneer ek die wind hoor wat steeds buite woed, weet ek dat Hy leef en is ek dankbaar dat ek aan Hom behoort. Hy is voor die storm, in die storm en ook na die storm by my:

Wees stil en weet, Ek is die Heer.
Ek spreek en wind en golwe bedaar
Ek sal ook jou getrou bewaar

Wees stil en weet, Ek is die Heer
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag
Ek is by jou, Ek gee jou krag

Wees stil en weet, Ek is die Heer
Bly waak en bid, volhard in geloof
Ek is by jou, soos Ek beloof.

En die dissipels is met groot ontsag vervul….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories