Vandag of môre

Jeugdag. Vadersdag. Dit tref my dat díe twee dae hierdie jaar oor dieselfde naweek val. Iemand noem in die week dat die Soweto optog destyds op ‘n manier ‘n aanklag was van jong mense teenoor grootmense wat hul in die steek gelaat het. Hy bring die vraag dan na vandag en los dit in my gedagtes. Waaroor sou ons kinders vandag in opstand wou kom? Wat is die aanklag wat die jeug sou wou uitskree? Ek kan aan baie dinge dink, maar in ons witgekalkte huise wonder ek of hooploosheid nie een van die grootste aanklagtes teen ouers moet wees nie. Om jou kind van hoop te stroop is dalk erger as baie ander dinge.

Wanneer ‘n vriendin se seun die geleentheid kry om op jeugdag sy storie op ‘n plaaslike radiostasie te deel, gryp sy getuienis my opnuut aan. Hy deel iets van die reis wat hy gestap het. Sy hoogtepunte en laagtepunte, foute wat hy gemaak het, maar ook die geleenthede wat hy aangegryp het om vorentoe te beweeg en ‘n verskil te maak. Een van sy mentors is ‘n vorige hoofseun wat hom êrens op sy pad raadgee. In jou pogings om by ‘n goeie toekoms uit te kom moet jy waak om nie op ‘vandag’ uit te mis nie. Terwyl ek na sy verhaal luister, lê ek op ‘n bed en rus by my ouers se huis in Kleinmond. Die afgelope week is die kaap deur storms geteister en baie paaie was onbegaanbaar. Ek besef dat ek in die middag te lank gewonder het hoe ek die volgende oggend sou terug ry. In die proses het ek amper die goue ure saam met my ouers van 80+ gemis. Ons vrees vir môre vat dikwels die vreugde van vandag weg.

Ek dink aan die uitdagende tye waarin ons leef. Waar die vraag van die eeue van krag bly. Wat is die sin van my bestaan? Om vorentoe te beweeg en die lewe te omhels? Om maak ons kinders toegewyd groot sodat hulle kan leer en slim word. ‘n Beroep sal kry waar hul hul passies kan uitleef. Ons bid dat hulle sal vlieg en goeie nessies sal vind. Gelukkig sal wees. Die realiteit is dat jongmense mettertyd ook moeg en uitgebrand raak. Dat die glans in hul oë maklik verdof soos hul later met moeite ‘n bestaan probeer maak. Prediker se verse wat keer op keer herhaal. Ek sien hoe my ouers swaarder loop terwyl ek onthou hoe ons saam berge geklim het. Ek sien hoe my kinders dans op die lewe terwyl ons deesdae net ons koppe knik wanneer musiek begin speel. Die lewe wat soos ‘n wiel aanhou rol…waar ons sin bly soek na eendag maar miskien te veel tyd aan die toekoms bestee en te min aan nou.

Mag ons nooit so bekommerd raak oor môre, dat ons vandag mis nie. Mag ons nooit so hard werk aan die toekoms, dat ons die vreugde van die hede verloor nie. Vandag se samesyn is môre se foto, herinnering of verlange.

Die sin van die lewe, is om te lewe. Waar jy is. Die geskenk vir ons kinders is hoop. Die begin met elke dag se sonsopkoms en word onderstreep deur die sonsondergang. Die grootste aanklag teenoor ouers in vandag se tye is dat ons ons kommer op ons kinders se skouers laai, dat ons hul hoop uit hul hande vat en dat ons so jaag om by môre te kom dat vandag in die proses verlore gaan.

Jeugdag. Vadersdag. ‘n Vreugdedag word ‘n aanklag in ‘n stukkende samelewing.

“For God has not given us a spirit of fear, but of power, love and selfcontrol. “May we proclaim today that the Lord is our banner. Ook vir ons kinders.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap