Wat eet jy?

Dit was ‘n moeilike dag by die werk. Ek het die aand uitgeput in die bed geval. My vingers het nuusopskrifte gesoek. Daar was nie veel nuwe nuus nie, maar beslis ook geen goeie nuus nie. Moedeloosheid wou my oorval. My eie moegheid, bronchitis bors en dit wat ek lees het my verder uitgeput. Ek het myself afgevra of daar iets goeds was in hierdie dag? Vir ‘n week kon ek boonop nie eers buite hardloop nie. In die donker nag het ek verder gedink. Ek moes diep delf om iets goeds te vind. Uiteindelik het ek onthou… My man het veilig teruggekom huis toe. My kinders was vanaand almal saam aan tafel. Niemand het honger gaan slaap nie…..Soveel dinge wat ek asvanselfsprekend aanvaar het.

“Elke dag is dalk nie goed nie, maar daar is iets goeds in elke dag.”

Oor die naweek het my siel gesmag om uit te kom. Ek kon nog nie hardloop nie maar het gevoel dat ek darem al kon stap. ‘n Kaapse stapgroep het aangedui dat hul Leeukop gaan klim. Die weervoorspelling het perfek gelyk en ek het my seun oortuig om saam te stap. Ek het besef dat om die mooi in ons land te bly raak sien, ons moeite moet doen om uit te kom en die mooi te soek. Dit was ‘n perfekte dag vir stap. Die uitsig en vars lug het my siel verkwik. Ek het positiewe mense uit al ons kulture ontmoet, selfs ook 2 Kanadese besoekers en een van Engeland. Almal met net een begeerte: om die mooi saam met ander te beleef.

Die volgende dag was my bene stywer as verwag maar my siel was gelukkig. Tog was ek steeds moeg. Die Sondagaand het ek en my dogter saam kerk toe gegaan. Die tema was Elia wat uitgebrand en moeg is, en eintlik net onder die besembos wou gaan lê. Alles het eenvoudig te veel vir hom geraak. Wanneer Elia uitgeput aan die slaap raak, is dit die Engel wat hom twee keer wakker skud met die opdrag: “Eet!” Uiteindelik staan hy op, eet die roosterkoek en kry die krag om die wildernispad aan te durf.

“Wat maak jy hier, Elia?”, is die vraag wanneer hy die berg van God bereik. Hy stort sy hart voor die Here uit en verwag Hom in die stormwind, die aardbewing en die vuur. Dis egter eers in die fluistering van die windstilte wat hy Sy stem hoor. In daardie stilte kry Elia sy opdrag na wie om te gaan. Wys die Here hom dat Hy steeds in beheer is.

Terwyl ek in die kerk sit, voel ek hoe my moegheid van my skouers afrol. Ek besef opnuut hoe nodig ek het om in Sy teenwoordigheid te moet stil word. By my huis, in die berge maar ook tussen ander gelowiges. Wanneer ek soggens Radio Kaapse Kansel luister en my Bybel oopmaak is ek besig om te eet….kos vir die wildernispaadjie wat ons daagliks moet stap.

Die Here gee vir Elia krag en ‘n ander opdrag. Hy verander nie Isebel se hart nie maar laat hom in ‘n ander rigting kyk. Hy lei hom na mense wat saam die stryd kan stry. (1 Konings 19)

Soms put die lewe ons uit, maak die nuusberigte ons benoud en wil moedeloosheid ons oorval. Dis dan wanneer ons ook maar net onder die besembos wil gaan lê. Die Here maak Elia wakker en moedig hom aan om te eet. Lees die Woord, kom tussen ander gelowiges, klim berge, word stil. Dis die kos wat jy nodig het vir hierdie pad.

Hy vat ons nie uit die wêreld nie, maar Hy gee ons krag. Hy vat ons nie noodwendig uit ons land nie, verander nie altyd die politiek nie, maar verander die rigting waarna ons kyk. Hy is reeds aan die werk en Sy belofte is nog steeds waar vandag. “Ek weet wat ek vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! ” Jeremia 29

As jou Maandag blou begin, het jy nodig om te eet. Die regte kos. As jou wildernespad te lank voel het jy dalk dieselfde woorde nodig om te hoor:

“Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap