Wanneer ‘n reënboog verskyn.
My kind is nie gekies nie. Die teleurstelling was groot. Veral toe sy hoor wie almal die span gehaal het. Ek troos en hou haar styf vas. Later stoei my moederhart hoe om dit self te hanteer. Terwyl ek in die kar wag, soek my vingers raad. Ek tik: “How do Christians deal with disappointments.” Twee Bybelfigure kom op. Job en Dawid. Die eerste riglyn is om die Here te loof en prys. Dit voel ‘n bietjie soos ‘n emmer koue water in my gesig.
Dankie Here, begin ek dan huiwerig. Dankie vir U sorg. Ek onthou hoe ek oppad na die proewe my kind aan die Here opgedra het. “U weet wat my boompie nodig het, sonskyn, reën, koue….” Ek sluk swaar oor hierdie koue front. Ek dank die Here vir haar gesondheid en onthou hoe ek ‘n maand tevore beangs was dat hul weer sou moes opereer. Gelukkig was die dokter tevrede. Dankie vir geleenthede Here, bid ek verder, vir al haar gawes en talente. Ek kan voel hoe my hart ligter word.
Later die aand delf ek verder oor Dawid. Ek soek sy stories en sien hoe hy telkemale met die Here stoei en dan eindig met ‘n lied. Dan lees ek die deel oor Dawid en Absalom. Die seun wat hom verraai en sy plek as koning wil neem. Wat maak dat Dawid in vrees moet vlug en uiteindelik teen hom moet veg. Ek sien ‘n pa se hart wat pleit by sy bevelvoerders: “Werk tog saggies met my kind.” Wanneer die nuus aan Dawid gebreek word dat sy seun gesterf het, is daar geen blydskap oor die oorlog wat gewen is nie, eerder trane en verdriet. “Absalom, my seun, my seun, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het.”
Die gedeelte maak my hartseer. Tog beleef ek iets van ons as ouers wat soms saam met ons kinders huil en ander kere oor hulle. Wat nie anders kan as om te worstel en te pleit nie. Soms oor nietighede soos ‘n span en ander kere oor groter en belangriker dinge. Met moedersdag lees ek iets oor die geskiedenis van die dag raak. Hoe een van die stigterslede self nie ‘n ma was nie, maar die pyn raakgesien het van moeders wat hul seuns tydens oorloë verloor het. Sy raak ‘n kampvegter vir vrede en vir ‘n dag waar moeders uitgesonder kan word.
Die aand troos ek verder. Ek laat haar toe om haar hart uit te stort. Dan tel ons die skerwe op. Sien die positiewe en gryp die uitdagings. ‘n Sagte glimlag verskyn. Ek bid vir ‘n goeie nagrus. God se vrede wat alle verstand te bowe gaan. Môre sal die son weer skyn.
Oppad werk toe die volgende dag is dit stormagtig. ‘n Koue front is sterk oppad. Dan onverwags sien ek die helder reënboog. Ek stop om ‘n foto te neem. Karre ry op en af. Ek wonder hoeveel van hul dit ooit raakgesien het. Ek ervaar die Here se sorg en dink aan ons land. Waar moedeloosheid en teleurstelling, woede en bekommernis ons wil oorweldig. Beurtkrag en ons regering. Die politiek en die misdaad. Ek dink aan my lessie van die vorige dag. Lofprysing en danksegging. Ons wapens veral wanneer dinge skeef loop. Dankie Here, begin ek dan. Vir U reënboog oor ons land. Dat ons U kan dien. Dankie vir ‘n werk en ‘n dak oor my kop. Dankie vir die vriendelike man wat my petrol ingegooi het. Dankie vir kos en warm klere. Besef ons nog die waarde van lofprysing? “Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word U vyande tot swye gebring.” Psalm 8
Ons het beslis rede om negatief te raak. Lees ek die koerant moet ek vir 3 dae in die berge gaan hardloop om my kop skoon te kry. Tog het ons ‘n ander anker. Lofprysing ontken nie dit wat om ons gebeur nie maar lei ons kop en ons gedagtes na ‘n God wat groter is as die kragkrisis en al ons ander probleme. Dit bring vrede in ons harte en gee nuwe krag. The joy of the Lord is my strength, word ‘n werkwoord wanneer ons dit ontdek. As ons die reënboë kan begin raaksien, kan ons ook die storms hanteer.
Laatmiddag stop ek by my huis. Die foon lui. Dis die hoofafrigter. Daar was ‘n fout. My kind het wel die span gehaal. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. U sorg Here, vir groot en klein. U gee sonskyn en reën en soms verras U met ‘n reënboog, onverwags. Ons loof en prys U vandag. Dankie dat ons in alles ons harte mag uitstort. Dankie dat ons as mammas by U voete kan kom pleit. Dankie vir ons mooi land. May the joy of the Lord be our strength. Forever you are faithful!