Naby aan die vuur
Hy kon nie verstaan hoekom hy Sondae moes kerk toe gaan nie. Op ‘n dag het die Prediker hom besoek. Die man was besig om ‘n vuurtjie te maak. Die predikant het langs hom gaan sit maar niks gesê nie. Toe neem hy een van die brandende houtjies uit die vuur en plaas dit eenkant. “Wat maak jy nou?,” wou die man weet. “Die vlam sal mos doodgaan op sy eie!” Die predikant het net sy kop geknik, geglimlag en teruggeloop huis toe.
In die week lees ek die vers in 1 Timoteus 4:7. “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.”,….i.p.v om betrokke te raak in sinnelose argumente (volgens vers 6). Dit het selfs meer waarde as oefening vir jou liggaam. Oefen. Die woord wat my tref. Hou aan probeer. Jy kry dit nie elke dag reg nie. Jy vind dit in jou stilword tyd en wanneer jy tyd maak saam met ander gelowiges.
Wanneer ek vir my kinders uit die boek Daniël lees, merk my jongste op dat ons min lees van die ander 3 jongmanne. Amper onregverdig dat net hý erkenning kry, noem sy terloops. Tog was dit dalk juis as gevolg van sy vriende dat hy kon reg kry om vas te hou aan sy geloof en beginsels. Is dit uiteindelik juis hulle wat in die vuur beland. Almal kan nie altyd voor staan nie, almal hoef nie noodwendig leiers te wees of die hoofkarakter in die boek nie. Almal voel nie elke dag ewe sterk in geloof nie. Daarvoor het ons ‘n gemeenskap van gelowiges nodig.
‘n Paar jaar gelede het my seun ‘n situasie beleef waar van die meisies nie wou hê dat hy saam met die groep moes speel nie. Elke dag het hy met hangskouertjies by die kar aangekom. Al raad was later dat ons daaroor moes bid. Die volgende dag het hy met stralende oë uit die skool gekom. Een van die seuns het daardie oggend vir hom opgestaan. Daarna het ‘n wonderlike ding gebeur. Al die seuns het een vir een ook vir hom opgestaan. Die ultimatum was gestel: of hy speel saam, of die seuns speel op hul eie. Die meisies het nie veel van ‘n keuse gehad nie en my seun se glimlag was terug. Ons het daardie dag die krag van gebed beleef maar ook dat dit een dapper seun gekos het om op te staan, maar ‘n groep nodig gehad het om ‘n impak te maak.
Elke dag stap elkeen sy eie paadjie. Almal met ander pakkies. Om daagliks te oefen om toegewyd te lewe maak uiteindelik nie net ‘n verskil in jóú lewe nie, maar moontlik ook op ander. Soms beteken dit om op te staan vir wat reg is, om iemand moed in te praat, hoop te gee. Ander kere dalk net ‘n oor te wees wat kan luister.
As jou vlammetjie vandag sukkel om te brand, het jy dalk ‘n vuurtjie nodig. Begin by die Here se voete, by Sy woord en soek daarna mense wat met hoop lewe. Raak betrokke by mense wat swaarder kry as jy. Lees goeie boeke, wees versigtig waarna jy luister en waarmee jy jouself besig hou. Om jou toewyding te oefen beteken dat jy erken dat jy Jesus in jou lewe nodig het. Op sy eie gaan die flammetjie sukkel om te brand, maar saam kan ons dit regkry om ‘n verskil te maak.