Vrydag
Ek het gesukkel om my kop reg te kry vir Paasfees. Dit was asof my gedagtes kort-kort weggedwaal het na alles en nog wat. Die praatjie wat ek moes skryf, die rooster wat ek moet uitwerk, die afspraak wat ek moet maak. Onthou-lysies sonder einde. Ek het moeite gedoen en gelees van Jesus se kruispad, na musiek geluister van die Via Dolorosa en stilgeword in die oggend se skemeruur. Ek het Sy grootheid ervaar in die sonsopkoms, die pienk lug en die blomme in die veld. Tog het ek gesukkel om my gedagtes te rig op dit wat saakgemaak het.
Ek het gedink aan die skare wat die “skouspel” van die kruisiging aanskou het en gewonder waar ek sou staan. Baie het op ‘n afstand gebly, onwetend van wat besig was om te gebeur. Tydens die Paasdiens het die dominee kort getuienisse van Bybelfigure gebruik om die Paasverhaal uit ‘n ander hoek te wys. Judas wat sy vriend verraai het vir 30 muntstukke. ‘Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor?’. Hoeveel keer kies ons nie ook die wêreld met sy dinge bo dit wat eintlik waarde het nie. Die soldate was die volgende rolspelers. Op ‘n manier het hul net hul werk gedoen, tog was hul so gewoond aan al die wreedheid dat hulle kon regkry om die spot te dryf, onder mekaar te stry, en selfs kon lootjies trek vir iemand se klere wat besig was om aan ‘n kruis te hang. Hoe gewoond raak ons nie ook maar aan mense wat in slegte omstandighede leef en swaarkry nie. Ons draai ons vensters toe en kies om nie te hoor nie. Iemand anders sal mos help. Naby die kruis staan Maria en ween. Johannes langs haar, net so hartseer. Dan maak Jesus oogkontak en gee hulle vir mekaar. Sáám met gelowiges kan ons die pad aandurf, ‘n boodskap ook vir ons vandag. Op ‘n afstand staan ‘n Romeinse Offisier. Hy kan nie help om te wonder oor die man in die middel nie. Iets was vreemd. ‘n Man wat kies om nie die wyn te drink vir die pyn nie. Wat krag vandaan kry om uit te roep, “Vader vergeef hulle” , ten spyte van sy lyding. Wanneer dit donker raak en Jesus uitroep: “Dit is volbring”, weet die offisier dat hierdie man werklik die seun van God was.
Ek dink aan myself wat met tye naby voel en ander kere ver. Wat ook soms langs die kruis sit maar ander kere dinge van ‘n afstand af beskou. Die misdadiger langs Jesus maak die pad eintlik vir ons makliker. “Jesus, dink aan my vandag.” Sy woorde spreek iets van sy geloof. Dat hy weet dat Jesus oppad is na Sy koninkryk. En Jesus verseker hom dat hy dieselfde dag nog saam met hom in die paradys sal wees.
Terwyl my gedagtes al heel week sukkel en ek net nie van my pakkies en take ontslae kan raak nie, kry ek dit reg om ook maar net te roep. Here, dink aan my. In daardie oomblik weet ek, dit is genoeg. Ek glo en ek onthou. Sy genade is vir ons genoeg. Dis nie altyd waar jy staan, wat saak maak nie. Die soldate was onder die kruis maar het die oomblik gemis. Twee misdadigers was aan weerskante van hom, maar net een het begin glo. Tussen al die Romeinse offisiere was daar een wat die waarheid besef het, al was dit op ‘n afstand. Om te glo is die eerste tree.
Wanneer ek in die berge is of vroeg opstaan en God se grootheid in die sonsopkoms ervaar is ek dankbaar. As ek in die nag stil word, deel ek my sorge met Hom en maak Hy my rustig. Soms is ek woordloos in Sy teenwoordigheid en ander kere wil ek Hom loof en prys. Ongeag waar ek staan van die kruis weet ek dat Hy my ken.
Vandag is ek dankbaar dat Hy ook vir my gesterf het. Hy vra nie altyd groot woorde nie. Soms is al wat nodig is dat ons moet sê: Jesus, dink aan my vandag….