‘n Week later
Dit was ‘n donker week. Letterlik en figuurlik. Beurtkrag was op sy ergste en daar was min lig in die nuus. Die werk en skool was weer sterk aan die gang na die kort vakansietjie en die “juggle” om oral te wees het my na my asem laat jaag. Boonop het ek die Vrydag sleg geval toe ek ‘n oomblik in die berg wou asem skep. Op ‘n stadium het ek terug gedink aan die vorige naweek en gewonder wat ons gedoen het. Tot ek met ‘n skok besef het dat die slegs ‘n week gelede was wat ons Jesus se opstanding gevier het. Net ‘n week….tog het die week donker gevoel en ver verwyderd van daai Sondag se lig- belewenis.
Opstanding Sondag. Waar geloof die groot faktor is. Die verskil om met hoop te lewe omdat Jesus opgestaan het, of bloot voort te ploeter. Ons lees hoe die vroue opgewonde teruggehardloop het van die graf om vir die dissipels die goeie nuus te vertel. In Tessalonisense skryf Paulus dat die gemeente in baie moeilike omstandighede die woord aangeneem het met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom. “So het hulle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges….”(Tessalonisense 1: 6-7). Ek wonder oor ons.
Dit voel ‘n bietjie moeilik om tans met blydskap te leef. Veral as die donker meer word, die nuus swarter en min goeie dinge op die horison verskyn. “In baie moeilike omstandighede het die Tessalonisense die woord aangeneem….” Iets in die vers tref my. Die lig kom immers nie van Eskom nie. Ons krag kom van die hoop wat ons vind in die woord. Watter beter tyd om Lig te wees as dit donker is rondom ons.
Miskien is hierdie die wekroep vir ons. Die tyd om geloof te kies. Om weer met blydskap die sonsopkoms te begroet. Opgewonde te raak oor die groter Hoop wat in ons leef, om dit weer te soek en te ontdek en met ander te deel. Paulus skryf uit die tronk….”dink aan my waar ek hier gevange sit.” Sien mekaar raak. Wees die sout vir die aarde. Met die 2 Oseane wedloop herleef ek weer my eie wedloop ‘n paar jaar gelede. Omgeeharte tussen atlete. Mense wat saam swaarkry maar mekaar se laste dra. Ondersteuners langs die kant wat jou aanmoedig om aan te hou. Ek sien iets van lig en sout in hierdie wedloop. Die wonder is, te midde van ‘n swart week is dít die prentjie van die ware Suid-Afrika.
Na my eie harde val, het ek moeilik opgestaan. My knie was stukkend en my lyf was seer. Die oggend se glorie was verby en ek was uiters teleurgesteld. Ek het teruggedraai kar toe en ‘n kortpad geneem. Op my roete het ek die mooi protea gesien en die eende wat rustig op die dammetjie geswem het. Ek het kalmte ingeasem. In die bome was klein voëltjies wat vrolik gesing het. Sonder enige kommer. Ek het God se sorg ervaar in die blomme en diere, in die mossies en die veld en opnuut besef dat God steeds vir ons sorg. Die God van die natuur waak oor ons. Al val ons stukkend en verloop die dag dalk anders as beplan, help Hy ons op. As jy Hom toelaat, wys Hy vir jou Sy teenwoordigheid, te midde van alles.
Die Here het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan. Nie net ‘n lied wat ons op Paasnaweek onthou nie, maar ‘n lied vir elke dag. Mag ons die woord opnuut met blydskap vat, mag die lig binne ons lewe. Mag ons sout wees waar ander nodig het om te hoor dat ons aan hulle dink. Wat ‘n voorreg om ook in hierdie donker tye die rigtingwyser na Hoop te kan wees. Nie net bedoel vir atlete wat ‘n ultramarathon doen nie, maar vir elkeen van ons wat op die lewenswedloop gekies het om te glo. “Julle sal my getuies wees”, Jesus se opdrag.