‘n Herfsblaar en ‘n Winterblom

(‘n Paar jaar gelede geskryf, aangepas vir vandag)

Daar was eendag twee dogtertjies in die hemel. Die Here kon nie besluit watter een dit moes wees nie. Uiteindelik het hy besluit dat elkeen so spesiaal was dat Hy altwee aan ons sou toevertrou. Een blond en een donker.

Die skok was groot. Die bakkie is ingeruil vir ‘n kombi. Skielik het ons vier voorskoolse kinders gehad. Daar was min slaap en baie doeke, maar op ‘n dag was ook hulle groot genoeg om skool toe te gaan.

Nuwe uitdagings:

So beland ons ‘n jaar of wat later by die kunswedstryd. Na die gediggies het die skaam enetjie in my oor gefluister: “Ek hoop ek kry ‘n Cum Laude.” My hart het in my skoene gesak. Die vorige jaar het hulle niks geweet van al die plakkers nie. Ek het terug gefluister: “Ag nee man, ek hou van die goue plakkers, dis net so mooi!”

Die beoordelaar het mooi woorde gepraat en al die deelnemers geluk gewens. Toe deel sy al die sertifikate uit. Eers die wat Cum Laude gekry het. Die spontane enetjie aan my regterkant se naam was ook daar. Gediggies kom eenvoudig meer natuurlik uit haar gesiggie. Ek het gesien hoe die een aan my linkerkant se handjies op haar skoot wriemel. Jy kon die spanning in haar lyfie sien. Ongemerk het ek haar hand gevat en haar ‘n drukkie gegee. Toe word haar naam genoem. Dit was nie ‘n Cum Laude nie maar ‘n goue plakker met n + op. Sy het glimlag. Ek was bly vir altwee. Die plakkers was nog nooit vir my belangrik nie.

Dit was nog nooit maklik om ‘n tweeling groot te maak nie.

Ek het albei daardie dag ‘n drukkie gegee en saam uitgestap. Buite was die herfsblare pragtig. Ons wou ‘n foto neem. Die een se rokkie het saam met die hersfblare ingesmelt en die ander een het ‘n blou rokkie met pienk rosies aangehad. “My herfsblaartjie en winterblommetjie!”, het ek uitgeroep. Hulle het gekyk en gelag. Dit was vir hulle mooi.

Dis nou reeds ‘n paar jaar later. Vandag doen hul minder gediggies, praat wel redenaars en sing liedjies op ‘n verhoog. Elkeen met sy eie styl. Soms sing hul ‘n duet en maak hul saam die mooiste harmonie. Die beeld van die hersfblaarjie en die winterblommetjie het in my kop gebly. Hulle was nooit bedoel om dieselfde te wees nie.

“So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help.”

Dis steeds nie maklik om ‘n tweeling groot te maak nie. Hul kommer minder oor die kleur van die plakkers maar daar is altyd nuwe uitdagings. Soms is die berge hoog om uit te klim. Elke keer hou ek vas aan Sy belofte: “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond.” Jesaja 44. Hy het nog altyd voorsien.

Vandag is hul 14 jaar oud. Ek is dankbaar dat die Here ‘n herfsblaartjie en ‘n winterblommetjie aan ons toevertrou het. Tussen my oudste se lentegeur en my seun se somergenot het ek die mooiste tuin!

Vandag sing ek ‘n lied van vreugde: “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderlik wyse geskep.” Ps 139:14. Dan bid ek Jesaja se gebed vir elkeen van hulle: “Stort U Gees op my kinders. Laat hul uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope…”

Here, berei asseblief die pad vir ons kinders voor, maak dit gelyk waar nodig, maar skenk ons die wysheid hoe om hulle vir die berge op hul lewenspad voor te berei. Geloof, hoop en liefde. Die sleutel tot sukses. Mag dit ons wapens wees om die toekoms in te stap. “U is ons lewe, U sorg vir ons….”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap