Wat ons bome nodig het

Die twee mans het albei ‘n olyfboompie geplant. Die jonger man het mooi vir sy boompie gesorg en hard vir hom gebid. “Here, stuur asb genoeg sonskyn vir my boompie,” en die son het geskyn. “Here, my boompie het reën nodig,” en die reën het geval. “Here, my boompie het koue nodig om hom sterker te maak.” Die koue het gekom en die boompie het gegroei, maar op ‘n dag, toe hy weer by hom kom, was die boompie dood. Die jong man was verdwaas en het na die ouer man gegaan en sy lot bekla. Die ouer man se boompie was sterk en gesond. “Ek het ook vir die Here gebid om vir my boompie te sorg”, was sy antwoord. Sy gebed was ‘n bietjie anders: “Here, U ken my boompie, U weet of hy sonskyn, reën of koue nodig het. Stuur dit asseblief”

Ek ontvang hierdie storie ongevraagd van ‘n vriendin nadat ek ‘n gedagte gedeel het. Die storie tref my. Soms probeer ons so hard om ons boompies groot te maak asof ons presies weet wat hulle nodig het. Soms kyk die Here verder as ons en uit ‘n ander hoek. Ons sukkel om die groter prentjie raak te sien. Die vra geloof om ons kinders in Sy hand toe te vertrou. Met die tweeling se geboorte wou ek benoud by die Here weet hoe ons dit gaan regkry om vier kinders groot te maak. Sy antwoord aan my het uit Jesaja 44 gekom: “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders…” Keer op keer wanneer ek wonder oor my boompies word ek herinner aan Sy belofte. Keer op keer moet ek terugstaan en kyk hoe die boompies groei wanneer ek hulle oorgee aan die groot Tuinier.

Nog ‘n vriendin stuur die mooiste boodskap oor die berge in ons pad. Soms hoop ons vir ‘n pad óm die berg maar meestal moet ons dit eenvoudig uitklim. Met ‘n mandjievol genade vir elke dag. Ek dink aan my eie liefde vir die berge waar klim nooit na te veel moeite voel nie. Tog is dit net so omdat daar reeds ‘n paadjie is wat ander mense voor my gestap het. Soms is daar stapels klippie om die pad aan te wys. Dit maak my dankbaar om mentors te hê en mense wat sekere paaie reeds gestap het in wie se voetspore ons kan stap. Hoe anders as die pad wat die Here deur die woestyn maak. Daar waar alles warm en droog is sonder enige tekens van lewe. Waar dit lyk of voetspore toegewaai is en ons wonder waarheen ons oppad is. Dis die plek waar die Here ‘n pad maak. “Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring….”

Om in afhanklikheid te leef beteken om te glo dat Hy ‘n pad kán maak, selfs in die woestyn. Met paastyd om die draai dink ek aan die pad na die kruis. Ds Deon Els praat van die stofpad saam met Jesus waar jy in een van 2 rigtings stap, of ná die kruis, of weg van die kruis. Ons beweeg of nader aan Jesus om meer soos Hy te word, of geleidelik weg van Hom.

Uiteindelik is Sy gees in my kinders van groter waarde as enige iets anders. Is dit daardie waarborg wat hul nodiger het as ander dinge. Soms het hulle ook die berge nodig om uit te klim. Netso het alle boompies sonskyn, koue en reën nodig om te groei. Nie noodwendig in mý volgorde nie, maar in die hoeveelhede wat Hy weet die boompie eendag in sal floreer.

Wat hul nodig het, is om in my voetspore in die kruis se rigting te stap. Dalk is ons grootste taak nie dit wat ons in die wêreld verander nie, maar wie ons grootmaak. Iemand het eendag gesê: “Your greatest contribution to this world might not be something you do, but rather someone you raise”

Here, vandag is my gebed: Help ons om in U voetspore te bly sodat ons kinders ons kan volg. Dankie vir berge met paadjies wat ander voor ons gestap het en vir paaie in die woestyn. Vandag gee ek opnuut my boompies vir U. Stuur asseblief dit wat hulle nodig het.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories