Martha en Maria

Die vrouekamp het stadig op dreef gekom. Dit was asof almal moes waag om tyd te maak, dinge te los en net te kom. Uiteindelik was ons ‘n lekker mengelmoes van vroue. Jonges, minder-jonges en sommige met meer silwerdrade as ander. Tog het ons iets in gemeen gehad. ‘n Behoefte om te stop en by Jesus stil te word.

Ek het besef dat ons in ons gejaag meer Martha’s as Maria’s is. Ons lewens tussen werk, kerk, kinders en huisvrou-wees is bedrywig. Ons bly skarrel en hou baie balle in die lug. Om te kom kamp was amper te veel gevra. Dit word ‘n dapper stap, sommige uit eie keuse, ander ‘n spanpoging van vriendinne.

Lindie Strydom spreek die kontras van die lewe in haar praatjie aan. Dit wat Paulus wil wees, maar nie altyd regkry nie. Die stilte wat ons nodig het, maar die gejaag waarop ons ry. Kontras tussen arm en ryk. Tussen ons lewe hier en mense in ‘n aardbewing ver van hier.

Op die Vrydagaand lei ek die lofprysing met die boodskap dat ons vir ‘n oomblik die voorskoot moet afhaal, die balle moet neersit en ons kommer voor Jesus se voete moet los. Net weer ‘n Maria moet word. Dit word lekker om in Sy teenwoordigheid te stop.

Ons word bewus van die sterrehemel buite, veral tydens beurtkrag daardie aand. Vroeg die oggend beleef ons die sonsopkoms oor die mooi blou see. God wat sorg. Die ritme in die natuur maak ons rustiger. ‘n Son wat opkom en gaan slaap. Alles op sy tyd.

Judy Ludwick gebruik die beeld van ‘n eier om ons prakties te help om ons sterkpunte te ontdek en ons broosheid te omarm. ‘n Kosbare sessie waar ons saam kreatief kon wees. Soms word ‘n eier gekook om die toets te deurstaan, ander kere in ‘n houer geplaas. Sagte hande kan keer dat hy breek as hy val.

Lindie deel haar frustrasies oor dinge, dit wat haar kwaad en ongemaklik maak. Nie altyd vekeerd nie. Dit raak die energie vir verandering. Om iets te wil doen, moet dinge jou soms begin pla. Ons kan nie net Maria’s word wat hy Sy voete wil bly rus nie. Ons het nodig om tot stilstand te kom en Sy stem te hoor. Die punt word ‘n komma, sodat ons kan opstaan en ‘n Martha kan wees. Nie uit eie krag nie, maar sáám met Hom. Sý rigting. Die groot geheim.

In my stiltetyd die dag na die kamp lees ek Psalm 23. Iets val my op. “Die Here is my Herder….Hy laat my rus in groen weivelde….Hy gee my nuwe krag….Hy lei my op die regte paaie….selfs al gaan ek deur donker dieptes….” Rus, lei, gaan. Die werkwoorde val my op. Dawid leer om te rus by die water, maar hy bly nie daar. Hy staan op en word gelei. Soms gaan sy pad deur donker dieptes…..die Here is by hom.

Ons het nodig om te stop…..en te go. Stop….en go. Ons het nodig om te sien….en te doen. Ongemaklik te raak oor dinge….en iets te verander. Dis die ritme wat ons moet ontdek.

Uiteindelik is Jesus ons bron van krag. Dis by Sy voete waar ons ons pakkies kan los en Hy ons help om ander dinge raak te sien. Dan lei Hy ons op die regte paaie…. tot die eer van Sy naam.

As die wêreld jou ongemaklik maak is jy op die regte plek. Daar waar Jesus jou wil gebruik. As die lewe jou moeg maak, het jy nodig om ‘n oomblik te rus. As jou Martha-bestaan te veel raak moet jy tyd maak om vir ‘n oomblik ‘n Maria te word. By sy voete kry ons krag. Saam met Hom kan ons opstaan en beweeg.

Die kamp was goed. Die kos, vriendskappe, rivier-swem, saam-lag en kuier het die prentjie ingekleur. Dit alles was nodig vir vrou-wees. Ons het Jesus ontdek in die sang, om die vuur, in die kombuis, in die vroegoggend draf, in ons stilword in die kamer. Martha en Maria. Saamgevleg. Dis wie ons is. Daarin lê ons krag. Om te wees wat Hy ons gemaak het.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap