Om aan te raak
Ek het nie veel gedoen nie. Sy was bekend met ‘n outoimmuun lewer-siekte en mag nie pynmedikasie gebruik nie. Haar handgewrig was geswel en haar knie was ook seer. Sy het moedig geglimlag. Later dankie gesê en opgestaan. Ek het gewens ek het ander oplossings gehad. “Jy het na my geluister en aan my geraak.” Haar woorde het my diep getref. In hul isolasie lewe was aanraking ‘n raar gebeurtenis.
In ‘n tydperk in ons land waar dinge letterlik donker is, lees ek in Jesaja 50 hoe die Here ons leer om die regte woorde te gebruik sodat ons díe wat moeg is, kan moed inpraat. Soms wonder ek of my woorde nog tref. Eintlik is dit irrelevant. Die Here soek ‘n gewillige hart. Dis Hy wat laat groei. Soms saai ons met woorde, ander kere dalk met aanraking of bloot ‘n omgeehart.
Jesaja se geheim van woorde is nie dat hy goed kon praat nie, maar dat hy kon luister. “Elke môre laat Hy my opnuut weer luister….die Here my God het my geleer om te luister….” Dis in ons stilword waar ons krag kry sodat die regte woorde gebore kan word.
In die drie dae waar Radio Kaapse Kansel van die lug af is weens waterskade in die gebou, besef ek hoe ek die goeie impak van hul woorde op myself mis. Die effek van dit wat ons hoor, lees en die dinge waarmee ons ons volmaak op ons gemoed, is verstommend. Dit vra nie dat ek die wêreld en sy probleme moet ignoreer nie, maar dit help my om uit God se oog na dinge te kyk. Ons moet moeite doen om die mooi te bly soek, om weg te kyk van onsself en ander raak te sien. Dankbaarheid is die hart se asem. Dit word in klein dingetjies gebore. As ek die klomp mans op die muurtjie sien wat wag vir werk, dan raak my werk se irritasies dalk kleiner. As ‘n vriendin weer chemo moet kry, raak die feit dat jy normaal kan stap en draf meer werd as hoe ver jy kan gaan.
In ons alledaagse bestaan is dit maklik om moedeloos te word. Ek sien daagliks hoe mense sukkel om te cope. Oral is daar spanning. Werk, familie, geld, gesondheid, politiek. Soms word die lewe net te veel. Nog 2 ure sonder krag die laaste strooi. Jesaja motiveer ons om bome van redding te wees. Ek kan dit nie uit my eie wees nie. Ek kan net ander se dors les as ek self eers by die fontein stop. “As ons hoop van ons omstandighede afhang, het ons Jesus nodiger as ooit. ” Soms moet ons eenvoudig meer moeite doen om by die Fontein van die lewe uit te kom. Te stop en te drink.
Wanneer ek in die week die kriewel in my keel voel en die spanning in my lyf, weet ek my siekword is naby. Soms kan jy dit keer en ander kere is die oormag te sterk. Ek rus ‘n bietjie meer, drink meer water en eet my appels. Ek is dankbaar as dit lyk of hy verby loop. Genade. Ek kan net ander dokter as ek myself ook dokter. Ek kan ander bemoedig wanneer ek God se hoop inasem.
“Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op Sy God vertrou,” is sy opdrag aan elkeen van ons. God vra nie wat ons omstandighede is nie. Hy belowe dat Hy by ons is. Op sy pad na die kruis is sy teiken nie om die Romeinse mag te breek nie, maar om mense na sy koninkryk te lei.
Ons moet waak dat ons omstandighede ons so versmoor dat ons ons roeping as kinders van God mis: Om bome van redding te wees. Waar jy bly, waar jy werk, waar jy beweeg maak nie regtig saak nie. Ons hét hoop. Ons kán ander bemoedig. Hy leer ons om te luister.
Soms is al wat nodig is, dat ons aan iemand moet raak.