Omdat Hy leef
Hy was die gasspreker vir die groep seuns. ‘n Oud-hoofseun wat sy storie kom deel het. Sy seerkry-jare en moeilike huislike omstandighede. Sy blywende begeerte vir ‘n afwesige pa se goedkeuring. Wanneer hy vra dat almal wie se ouers nog bymekaar is, moet gaan sit, bly omtrent ‘n kwart van die seuns staan….Vir mý seun ‘n ‘eye-opener’. Vir die ander, dalk die besef dat hulle nie alleen is nie. Stories van die lewe, real-life stories vir real-life kinders.. Die oggend word ‘n baken van hoop te midde van ‘n traan in die oog.
Oppad werk toe vang my oog die jong seun wat haastig na sy skool toe hardloop. Hy is reeds laat. Ek wonder terloops of die paar minute vroeër werklik ‘n verskil aan sy “laat-wees” gaan maak. Ek kan die spanning in sy lyf sien. Dalk skryf hy ‘n toets? Die vorige dag het dit hard gereën. Miskien was die klere nat, moes hy eers sy sussie help of sy ouma by die taxi kry. Die omgewing waar hy bly is moeilike grootword plekke. Ek sien hoe die onderwyser sy naam opskryf soos hy deur die skoolhek loop. Dissipline is belangrik. Ek ry verder. Terug na my eie wêreld.
Later die middag hoor ek van my eie kind se slegte dag. Hoe sy by die skool gegly het met haar fiets en sleg geskuur het. Hoe tranerig sy nog was toe sy toets moes skryf en hoe die onthou te veel geraak het. Boonop eindig die dag met sop vir aandete, redelik laag op haar lysie van geregte. ‘n Moeilike dag uit ‘n ander oog. Ek maak die wonde skoon, ons lag oor die sop en lees dan van Moses wat kla hoekom hý na die Farao moet gaan. “Ek sal by jou wees…”God se belofte aan hom ook vir ‘n dag wanneer ons uitdagings te veel voel om te hanteer.
Ek dink aan die woorde van Jannie Putter: “Sukses én mislukking word in ys geskryf. Môre kom die son weer op. Karakter is wat die toets deurstaan.” Dis waar woorde wat my tref, want tussen die oppe en die affe van die lewe is dit karakter wat gebou en gevorm word. Wat maak dat jy kan opstaan, vorentoe beweeg en ‘n verskil bly maak.
Wanneer ek saam met my student die Sondagaand haar kerkdiens bywoon, is die eerste lied wat ons sing, ‘n ou bekende vir my. “Because He lives, I can face tomorrow….” Dit bring my tot stilstand want dit raak die antwoord vir my kinders en my eie gemoed wanneer ons wonder oor môre. ‘n Herinnering aan die kern van ons geloof. Die basis van ons hoop. Dalk die grootste rede hoekom Kai sy getuienis kon deel, hoekom hy dit kon regkry om hoofseun te word, op sy koshuis se raad kon dien, sy graad kon behaal en te midde van sy eie seerkry kans gesien het vir môre. Sy karakter het die toets deurstaan.
Met paastyd om die draai en ‘n land waar bekommernis gereeld ons vreugde wil steel, word die lied ‘n noodsaaklike herinnering van wat ons glo. Die uitdaging is om dit prakties toe te pas.
"And because He lives
I can face tomorrow
Because He lives
All fear is gone
Because I know
He holds the future
And life is worth the living
Just because He lives"
Moses wou weet hoekom hý na die Farao moes gaan, hy wat nie eens goed kon praat nie. Kai moes sý storie deel sodat ander kan glo. Die townshipseun en my dogter het ‘n ewe slegte oggend gehad. Sop was dalk sy koningskos. Mense het real life stories nodig. Nie om mekaar af te trek nie, maar om mekaar te bemoedig. ‘n Herinnering dat ander ook seer het, maar dat die son môre weer sal skyn. God het aan Moses belowe dat Hý die woorde sal gee.
Because He lives we cán face tomorrow.