Om op te staan

Die vernedering en teleurstelling moes groot gewees het. Geweeg en te lig bevind. Nie gekies nie. Dan die groot verloor in Australië. Hy hou sy kop gelig. Praat min. Probeer weer. Uiteindelik kom die 100-tal en jy kan uit die emosie op sy gesig sien hoeveel dit vir hom beteken. Hy noem van die gesprek met ‘n mentor die vorige dag. Hoe nodig dit was om sy hart te kon deel. Ek bewonder mense wat kan opstaan. Mense soos Bavuma.

Karien Basson deel ‘n kykie uit ‘n nuwe dokumentêr met die stelling: “Not everything that is faced can be changed, but nothing can be changed until it’s faced.” Die woorde tref my.

Sommige teleurstellings is moeilik om te aanvaar. Soms moet ‘n mens diep delf om op te staan. Ek dink aan Wade van Niekerk wat nie net hard moes werk om weer te kon hardloop nie, maar wat nodig gehad dat iemand in hom glo sodat hy self weer kon glo. In ‘n opvoedkundige reeks lees ek onlangs ‘n wenk aan afrigters en ouers vir hul kinders: “Instead of teaching them how to always be successful teach them how to respond when they are not successful.” Groei-grond vir die lewenspaadjie.

Einstein se verhaal bly my inspireer. Onbewus van die uitdagings op sy pad, het hy suksesvol groot geword omdat ‘n ma in hom geglo het. Soms moet ‘n mens net ‘n ander pad neem om by die uitsig te kom.

In Korintiërs lees ek dat ons deur geloof lewe, nie deur sien nie. Daardie vers raak ‘n rigtinggewer vir my. Dit vra om jou hand in Jesus se hand te sit wanneer die pad onseker lyk. Dit raak die rede hoekom Paulus steeds kon sing al was die tronk donker en koud.

Met die aardbewegings in Turkye sukkel ek om dinge te verstaan. Wat ‘n wrede wêreld. Om te gaan slaap en dan met ‘n skudding wakker te word, of dalk nie. Ons is dankbaar wanneer iemand lewendig gevind word, maar onbewus van die koue en die trauma waarmee elkeen moet worstel. Die verlies van alles wat jy gehad het en van mense na aan jou. Waar begin jy as jou hele wêreld letterlik om jou verkrummel?

In die geskiedkundige romans van Irma Joubert staan ek telkemale verstom oor die trauma van veral kinders tydens oorloë. Naby ons, op die vlaktes tussen die bendes, is daar ook steeds oorloë waarvan ek min verstaan. Tog oorleef kinders teen wil en dank. Sommige ontsnap terwyl ander vasgeketting bly. Ek dink aan my eie kinders se wêreld waar hul grootste kopseer is watter aktiwiteite om voor nee te sê. Honger was nog nooit deel van hul bestaan nie..

Om op te staan kry nuwe perspektief. Elkeen het sy eie verhaal. Die beginsels bly dieselfde. Aanvaar hulp waar jy kan, kyk op en soek die son. Omring jou deur mense wat jou aanmoedig. Kies geloof.

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” Soms maak ons die lewe net te “complicated”. Oordink ons dinge te veel en bekommer ons ons oor dinge waaroor ons dikwels geen beheer het nie. Jesus nooi ons om ons hart voor Hom uit te stort maar dan sy hand te vat. Sy krag in te skep en met geloof te stap. Die kolf weer op te tel en die bal te face. Te verander wat ons kan en te vat wat Hy ons elke dag beloof. Sy teenwoordigheid.

Hoop begin met dankbaarheid. Opstaan begin met geloof. Om te bly lê is nie ‘n opsie nie. Dankie tog vir reddingswerkers wat mense uit die puin kan haal. Dankie vir mentors wat sportsterre weer in hul baan kan plaas. Dankie vir ma’s wat aanhou bid en glo. Dankie vir ‘n Here wat ons nooit in die steek laat nie.

“The sun comes up, it’s a new day dawning….”. In elke sonsopkoms lê daar ‘n boodskap van genade en hoop, ‘n rede om weer te probeer.

Staan op….”Not everything that is faced can be changed, but nothing can be changed until it’s faced”.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories