Tyd stap aan
"Ure, dae, maande, jare, skuif soos skadu's stil verby....
Soos die gras, so is ons dae;
Soos 'n blom verwelk die mens,
U stel na U welbehae
Aan ons leeftyd hier 'n grens!"
Terwyl ons die nuwe jaar al glinsterend betree, is die hierdie woorde wat ek stilweg in my binneste onthou…hoe nietig die mens. Ongeag hoe belangrik of onbelangrik die datum dalk is, die sekondewyser stap eenvoudig voort. Min gepla deur die oorgee aan nog ‘n jaar. Tyd stap aan. Elke jaar blaas ons meer kersies dood. Net nog ‘n getal roep iemand uit. Ander juig, sommige sug. Tyd wag vir niemand.
Wanneer die koerantopskrif vertel van die 2 studente wat saam veras word, ruk die woorde my wanneer bygevoeg word hoe hul saam oor die toekoms gedroom het. ‘n Mooi jong paartjie, 19 en 20 jaar oud, met die wêreld aan hul voete. Die prentjie van twee onbekende mense met stralende oë maak my hartseer. Die lewe met sy onverstaanbare weë.
Ek wonder oor hulle drome… was alles tervergeefs?
Soms voel dit of die lewe stomp eindig, maar êrens in ons nietigheid lê die geheim daarin dat ons drome nie net die eindresultaat is nie. Dis in die reis waar ons eintlike vreugde lê, meer as in ons bestemming. Jy staan tog nie een dag op en alles val in plek nie. Jy droom, staan op, gaan koop die saadjies, berei die grond voor, plant die saadjies, lei dit nat, trek onkruid uit, gee kos. Dan, stadig en onverwags kom die saadjies op en word dit blomme of bome. Geen droom is ooit tevergeefs nie. Êrens kom daar vrugte op!
Wanneer ons ontdek dat drome uit oomblikke bestaan, kan elke dag deel van ons droom raak. Die Goddelike plan is dat ons ‘n verskil moet maak waar ons beweeg. Ongeag hoe lank ons leef of watter mylpaal ons wel bereik. Die feit dat die twee studente saam gedroom het oor hul toekoms, beteken waarskynlik dat hul saam voluit geleef het.
Wanneer die Prediker na al sy eie suksesstories kyk, drome wat wel waar geword het, wonder hy steeds oor die sin van die lewe. Sommige mense het ooglopend alles onder die son, maar bly soekend na geluk. “Die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie.” Ander het baie min, maar is tevrede. Te midde van al ons groot planne is dit die allegdaagse wat die basis van ons geluk vorm. “Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed….”,om te lewe in die oomblik….die groot geheim.
Soveel mense bereik nooit hul drome nie. Die trourok bly net ‘n prentjie in ‘n boek, die wiegie bly leeg. Sommige sterf te vroeg, ander word siek, sommige se planne loop skeef, hul maak dalk verkeerde besluite of mis eenvoudig uit op die regte geleenthede. Die hartseer is wanneer ons vasstaar teen tyd en alles meet aan die uitkoms. As al ons geluk gekoppel word aan ‘n enkele droom is dit nodig om ‘n oomblik terug te staan en te besin, refleksie te doen. Soos prediker daaroor te dink. Drome is nodig om ons te motiveer, maar as dit ons begin aftrek en keer dat ons die mooi in die lewe raaksien, is dit dalk tyd om ons drome aan te pas. Sommige afdraaipaadjies is nodig om ons anders na die lewe te laat kyk en soms lei dit onverwags dalk na nuwe drome.
“Focus on the journey, not the destination. Joy is found not always in finishing an activity, but in doing it!” – Greg Anderson
Ure, dae, maande jare, skuif soos skadu's stil verby....
Soos die gras, so is ons dae,
Soos 'n blom verwelk die mens..
Tyd is nie ons eie
Tog het U ons só gemaak
Om te lewe deur U Gees
Stop worrying about the potholes in the road and celebrate the journey.” – Fitzhugh Mullan. Eet jou brood met vreugde, al is dit soms by ‘n lantern. Eskom hoef immers nie al ons vreugde te steel nie!
“The journey of a thousand miles begins with one step….” Elke droom begin met ‘n ‘vandag’. Wanneer ons dag begin met ‘n dankgebed, skep God in ons ‘n verwagting. Dan raak ons drome deel van Sy groter plan. Ongeag hoe lank ons leef. As ons God gevind het, was niks in hierdie lewe ooit tevergeefs nie.