Geskiedenis draaipunt

Winkelsentrums is bedrywig. Mense stap op en af. Daar is kersbome en liggies in die vensters maar minder kersmusiek wat speel. Dis ‘n vreemde tyd. Hier en daar kry jy dit reg om die politieke onweerswolke te ignoreer. Jy draai geskenke toe en beplan jou kos tussen beurtkrag wat jou meer en meer irriteer. Harde reënbuie sorg vir vloede. Sommige juig oor die reën wat uiteindelik val, ander kyk verslae hoe waterstrome landerye en paaie vernietig. Dieselfde storms woed by die ANC konferensie. Sommige juig oor die onmin, ander hou asem op. Here, roep ek sag. Lei ons tog uit die modder uit.

Tydens ‘n kersboodskap kry ons agtergrond oor die politieke gebeure rondom Jesus se geboorte. Keiser Augustus is aan bewind. Die eerste Romeinse Keiser en een van die suksesvolste Romeinse leiers in die geskiedenis. Dis hy wat beveel dat ‘n sensus uitgevoer moet word, om die grootte van sy mag te wys maar ook vir belastingdoeleindes. Oor die hele Romeinse streek moet mense hulle laat registreer. Uit die klein Joodse volk vertrek Josef en Maria na Betlehem vir hierdie rede.

Ons ken die verhaal van die herberge wat vol was, ‘n hoogswanger Maria wie se baba uiteindelik gebore word in ‘n stal. ‘n Engel wat aan herders verskyn en sterrekykers wat die helder ster na Betlehem volg om hulde te bring aan die geboorte van ‘n nuwe koning. Alles tydens die bewind van Keiser Augustus. Die meeste onbewus daarvan dat die grootste draaipunt in die geskiedenis besig was om te gebeur. Min wetend dat daar 600 jaar voor dit reeds voorspel was dat die verlosser in Betlehem gebore sou word en dat hierdie bevel onwetend deel was van ‘n baie groter plan. Die keiser sug tevrede soos die geld en getalle instroom. Die sensus was ‘n groot sukses in sy oë. Sy mag is bevestig en sy beursie raak nog voller. Hy bou en breek verder, steeds onbewus van die mees onwaarskynlike gebeurtenis in ‘n stal in Betlehem.

In ons eie land wonder ek waarmee God besig is. Op die oppervlakte lyk dinge maar moeilik. Wie is nou eintlik die regte leier vir ons land? Hoe verander jy denkrigtings en raak jy van korrupsie onslae? Daar is baie vrae waarmee mense worstel en almal het ander antwoorde. Jesus se geskiedenis laat my uit ‘n ander hoek kyk. Ongeag wie aan bewind is, laat God steeds dinge gebeur. Dikwels nie soos wat ons dink en verwag nie. Ons sukkel om sy ingrype raak te sien en wil ook maar soos die dissipels vra wanneer Jesus dan sy mag gaan wys? Die Romeinse oorheersing was die groot doring in die vlees. Die rede hoekom baie gehoop het dat Jesus hulle daarvan sou verlos. Uiteindelik word Jesus se kruisiging ook deur húlle goedgekeur, omdat hulle vaskyk teen ‘n politieke prentjie wat nie verander nie. Omdat Jesus nie is wat hulle gehoop het nie

Dit bring my terug na kersfees in ons land en eintlik maar die res van die wêreld. Te midde van storms in die natuur en storms in die politieke arena sing ons kersliedjies met ‘n verwagting. My vraag aan myself is, wat ek van Jesus verwag? Om die politieke mag te breek? Om beurtkrag te stop? Om die regte leier aan te stel? Sing ons Hosannas met kersfees net om Jesus ‘n ruk daarna te wil kruisig omdat niks verander nie en daar geen hoop is nie?

Die geboorte van Jesus in Betlehem tydens die bewind van keiser Augustus en koning Herodus is meer as net ‘n teken vir ons. Te midde van al die onsekerheid rondom ons, is God steeds in beheer. Geen politieke onstabiliteit is vir hom ‘n bedreiging nie. Sy plan is baie groter. Die gevaar is dat ons so vertrengel kan raak in die wêreld se probleme, dat ons God se grootheid mis. Ons soek hom in óns oplossings en mis hom in die stal. Ons bou ons éie koninkryke en voel trots omdat ons Jesus in die middel wil sit. Tog sukkel ons om te verstaan dat Hy ons deel wil maak van Sý koninkryk. Waar klippe optel nie deel is van sy oplossing nie. Liefde en versoening is nie noodwendig deel van ons planne, tog is dit wat Hy verwag.

Kersfees kom, kersfees kom. Waarin lê ons hoop? In Hom wat ‘n draaipunt in die geskiedenis kon maak. In Hom wat gekom het omdat Hy die wêreld liefgehad het, in Hom wat Lig gee wanneer dit donker is. In Hom wat Liefde is…..want liefde verdryf vrees. Te midde van beurtkrag, politieke onstabiliteit, vloede en modder rondom ons, is ons toekoms veilig in Sy hand.

Jesus is gebore in Betlehem, soos lank reeds voorspel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories