Wanneer hoop ‘n verwagting word
Oppad werk toe het ek die bakkie langs die pad sien stop. ‘n Groep hoopvolle mans het nader gestorm en almal probeer inklim. Desperate mense wat ‘n dagloon wou verdien. Slegs 3 kon saamgaan. Die res moes terug staan met ‘n rugsakkie in die hand. Ek het ‘n knop in my keel gekry. Soveel honger mense, vir werk en vir kos.
By my werk was dit stiller as gewoonlik. Die omstandighede was anders maar binne-in was almal ook soekend. Hoop. Die gemeenskaplike woord waarna almal smag. Hoop vir werk, hoop vir gesondheid, hoop vir ‘n toekoms. Hoop vir môre.
Net die vorige Sondag het ons die kers van hoop aangesteek. Ons het kind geword en weer kersliedjies begin sing met Stille nag, Al was ek nie daar nie en ander tydlose kersliedjies. Min was gereed vir die aankondiging dat kersfees om die draai is, tog het die musiek ons ‘n oomblik laat pause. Die besige jaar het sy tol geëis en almal was moeg. Die koor het herhaal, Kersfees kom, Kersfees kom.
Die wêreld was donker. Die oorlog steeds aan die gang, die olieprys hoog en ons land se politiek nog meer onstabiel. In ons huis het ons die TV en nuus afgesit, musiek geluister en ‘n vuurtjie gebrand. Lig verdring die duisternis het my stiltetyd gelees. Sy lig het in ons kom woon. Jesus wat anders na die mense gekyk het. “Hy het hul innig jammer gekry want hulle was verlore soos skape sonder ‘n herder. “O die goeie tyding, o die blye tyding, het die lied weerklink. Tog het ons gesukkel om die lied te hoor want koerante se nuus het harder weerklink.
Tydens ‘n praatjie by die skool vir tieners en drank voel ek jammer vir ons kinders wat konstant moet kies tussen reg en verkeerd in ‘n wêreld waar grootmense self met wanhoop leef. Kom kinders besing met ‘n vrolike stem, die wonder van God in die stad Betlehem. By wie moet hul hoor as ons hul nie vertel?
Dis somer en ons kry warm. Beurtkrag maak die waaiers stil. Ons sug en kla oor die somerkersfees in ons land. Dan lees ek hoe die mense in Europa swaar kry in die koue sonder krag. Kersfees kom, kersfees kom, sing ons saam. Ons bly kyk in ons dowwe spieël en sing die refrein waarvan ons hou, maar sien steeds net stukkies van die lewe raak.
As jy geld het kan jy koop. As jy gelukkig is, is daar familie en dalk ook ‘n boom. In die aftreeoord stap ek verby die kamertjie waar ‘n tannie met haar radio’tjie sit. Was daar ook eens ‘n kersgety met kos en beplanning? Besige tafels met vriende en familie? Al was ek nie daar nie, al is ek alleen, ek weet steeds dis waar, die krip en Maria met die kindjie by haar. Hoop, die anker, dit wat oorbly wanneer al die ander dinge tot stilstand kom. Juis ook daar in die aftree-oord.
Ek steek die kers aan, en stop ‘n oomblik. Kersfees, nodiger as ooit. Juis vir die tyd waarin ons lewe. Waar hoop gekoppel word aan hoeveel elektrisiteit daar is, watter leiers verkies gaan word en wat jy vir kersfees gaan kry. Hoop is die goeie nuus van liefde en omgee. Soms kom dit met ‘n stukkie brood en ‘n oor wat luister. Dis die boodskap van ‘n Jesuskind lank verwag. ‘n Here gebore vir ons. Die rede vir ‘n stille nag terwyl die wêreld aanhou jaag.
Baie het ver verdwaal. Baie leef sonder hoop. Elke kerslied herinner ons aan wat ons glo en wat ons het om te deel. Vir ons tieners, hulle wat swaarkry, hulle wat alleen is, hulle wat sukkel om aan te hou. Die goeie tyding kom met krag in die Kersfeestyd vir elkeen wat glo. Immanuel, God met ons. Die rede hoekom ons kan sing. Hoop. Die woord wat almal soek word ‘n werkwoord wanneer ons Hom vind.
Skenk ons ‘n helder somerskersfees in hierdie land o Heer, word meer as net nog ‘n lied. Dit word ‘n gebed met ‘n verwagting.