Jesus se jas
Opgedra aan Danie Nelson
Die boodskap het laat die aand deurgekom. Ek het dit drie keer gelees en yskoud geword. Ons goeie vriend is dood… Ek kon dit eenvoudig nie glo nie. Selfdood.
Die volgende aand het ek by die prysuitdeling gesit. My kinders het ‘n paar keer oor die verhoog gestap, en ek was dankbaar en verras oor al die toekennings. Ek het nostalgies gedink aan die reis tot hier met al sy op-en afdraendes. Dit was lekker om hul groei in karakter te beleef, die Here se hand in hul lewe te sien en te ervaar hoe Hy keer op keer voorsien het. Die lewe met sy lief en leed. Ek kon nie help om te dink aan Danie en Petro wat ook ‘n paar jaar gelede by prysuitdelings gesit het nie. Skrander kinders wat uitgeblink het in sport, kultuur en leierskap. Irrelevant vanaand, want ‘n pa was weg. Hoe vinnig kan die lewe tog nie verander nie.
Medelye en hartstories het ingestroom. Danie was nie jou gewone man op straat nie. Soms het hy jou kwaad gemaak met sy reguit woorde maar meestal het hy jou laat lag. Hy het afvlerkvoëltjies raakgesien en mense se binneste bereik. Hyt gepreek oor die lewe en die realiteite van vandag. Dis egter sy opregte menswees wat harte aangeraak het. Iemand stel dit so mooi: Hy’t Jesus se liefde gedra soos ‘n jas.
Wanneer die trofees uiteindelik plekkies in ons huis kry, kan ek nie help om te dink aan I Korintiërs 13 en Danie se jas nie. “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal gword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse…..maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.” Ek kan hoeveel broodjies en vissies in my hand vashou maar as ek nie daarvan kan uitdeel nie, raak dit nutteloos. As liefde nie saamgevleg word in my gawes en talente nie word dit eenvoudig net instrumente wat raas. Leë klanke sonder enige plesier.
Soos ek ouer word, raak ek meer en meer bewus van ons verganklikheid en ons onvermoë om dieselfde dinge as vroeër te doen. Jy hardloop stadiger, klim berge met meer moeite, vergeet meer, sing nie meer so hoog nie, sien slegter en sukkel met gewone dinge. Geloof hoop en liefde, hierdie drie. Die waardevolste gawes wat saam met jou aftrede toe kan loop. Jou behoud om sinvol te bly lewe. “Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe om God se boodskap te verkondig sal verdwyn, kennis raak uitgedien…”,en mense sukkel om aan te pas wanneer ‘n beroep al was waarop hul staatgemaak het.
Ek sukkel om Danie se worstelstryd te verstaan, maar wanneer ek lees van die jas wat hy daagliks aangetrek het, help dit my om verby daardie oomblik te kan kyk. Dit herinner my dat die lewe kosbaarder is as baie glansgeleenthede. Dat die meeste goeie dinge verniet is en jou grootste rykdom dit is wat jy nie met geld kan koop nie.
Ek druk my kinders styf vas en skryf ‘n brief vir Petro en die kinders. Ek wens ek kon nog ‘n sonsopkoms saam met Danie bewonder het maar ek is dankbaar vir sy menswees. Kies die lewe, roep ek uit vir hulle wat oorbly en agterbly, maar meer nog, wees opreg in wie jy is, sien ander raak, gebruik jou gawes en talente om van die wêreld ‘n beter plek te maak. Jy hoef nie alles te weet, alles te verstaan of alles te verander nie, maar daagliks kan jy kies watter jas om aan te trek.
Uiteindelik lyk Jesus se jas van liefde na die beste opsie. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles. Danie het daardie jas lankal ontdek en daarvoor eer ek hom vandag.