Om sinvol te leef

“Was dit wat ek gedoen het, sinvol?”, die vraag wat Venessa Schoeman haarself afvra in die Oktober Finesse tydskrif. ‘n Refleksie waaroor ons almal op ‘n tyd in ons lewe wonder, veral soos die jare aanstap en ons ontdek dat ons ouer word. Dis wanneer sy buite gaan stap en die koel reëndruppels op haar vel voel en die nat grond ruik, dat sy besef: so seker as wat sy voel, so seker lééf sy elke dag. “As elke oomblik – hartseer of gelukkig- aan jou hart geraak het, het jy sinvol geleef.”

In die week maak ek ‘n oordeelsfout om op ‘n vriendin se boodskap te reageer en die skakel te volg. Ek besef vinnig dat dit fopnuus is en ‘n vals boodskap. Die volgende 10 minute spandeer ek om my fout te herstel. Ek is meer kwaad vir myself oor die tyd wat ek gemors het en dat ek my stilwordtyd vir minder as ‘n bord lensiesop verruil het.

Radio Kansel se omroeper herinner my vroegoggend dat hierdie dag deur die Here geskep is. Dit herinner ons om bewustelik te lewe, om in die oomblik te wees en waaksaam te bly vir mense en geleenthede wat ons pad kruis. Wanneer die angstig-bekommerde pasiënt voor my kom sit, vra ek haar later uit oor haar toekomsplanne. Sy is besig om te studeer en bly by haar ma. Terwyl haar hande onrustig vroetel op haar skoot, noem sy dat sy eintlik oorsee wil gaan bly, omdat sy daar gelukkig sal wees. My hart sak in my skoene. Jy moet eers hier gelukkig wees voor jy kan gaan, is my raad aan haar. Dieselfde persoon wat jou hier gelukkig maak, gaan saam met jou…jyself. Reik uit na mense, kom buite, ontdek jou gawes. Begin leef waar jy is. Dán kan jy gaan…

In die natuurreservaat lees ek die woorde op ‘n bankie: Time spent in nature is never wasted. Dis die plek waar ek my longe vol suurstof maak, waar ek God se grootheid beleef en my probleme al hoe kleiner raak. Wanneer ek tyd maak om buite te kom, tel ek spoed op om al die ander balle in die lug te hou. Die natuur bring ritme en kalmte. Ek en my jongste ontdek dit veral op die dag waar ons moet jaag van ‘n skooltennistoernooi in een dorp, na ‘n ander dorp om betyds by haar unisa teorie eksamen te wees. In die 10 minute wat ons vroeg genoeg is, stop ons by die park oorkant die skool. Ons word verras deur 2 eende wat met hul kuikens verby stap. Dit raak die komma in ons dag se gejaag. Donsveertjies bring ‘n glimlag op ons gesigte en gee ‘n oomblik perspektief aan die lewe. Die hoogtepunt van ‘n besige dag is uiteindelik nie die tenniswedstryde wat sy wen, of die vraestel wat sy goed skryf nie, maar eendjies wat haar dag ophelder.

‘Het ek sinvol geleef?’, ook die vraag op mý lippe. Net as ek nie my tyd op sinnelose boodskappe mors nie. As ek stilword om te kan uitreik, as ek my gawes gebruik om ‘n verskil te maak, as oomblikke aan my hart raak, as ek voel en beleef…dis dan wanneer ek leef. ‘Its not what you look at that matters, its what you see. It’s not what you listen to, but what you hear, its not where you live, but how you spent your time.

Geluk is nie altyd daar ver nie, dit begin in die hart. Dis nader as wat jy dink. Wanneer jy jou seëninge begin raaksien en met ‘n dankbare hart begin leef. Wanneer jy jou ore oopmaak om te luister en jou oë om te kyk. Wanneer jy Hom begin raaksien in die natuur en in die mense om jou: Dan begin jy iets beleef van God. Sy grootheid en sy genade. Dán, raak dit ‘n sinvolle lewe.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories