Hoeveel brood het jy?

Ek wonder of die seuntjie gehoor het dat die dissipels iets gesoek het om te eet. Dalk het hy gedink dat Jesus honger was. Andreas het kom vertel van die seuntjie met die vyf garsbroodjies en twee vissies. ‘n Besorgde mamma agter die skerms wat onwetend díe dag te veel kos ingepak het. ‘n Gewillige seuntjie deel alles wat hy het en meer as 5000 mense word daardeur gevoed. Twaalf mandjies kos bly oor. ‘n Merkwaardige verhaal. Geweeg en meer gemaak.

Die afgelope tyd raak ek opnuut bewus van ander skale waarvolgens mense en spanne geweeg word en meestal te lig bevind word. Vergrootglase word uitgehou en foute word gou uitgewys. Verloor die span, is dit die kommentaar wat later erger is as die eintlike verloor. Dis asof mense se eie onvermoë en teleurstellings ‘n mengsel van rotse word waarmee hul met woorde gooi. Die skaal swaai skeef en ongeag die sweet en ywer, word spelers afgekraak, konstant geweeg en as hul verloor, defnitief te lig bevind.

By skole gee prysuitdelings erkenning aan talent en harde werk. Leierverkiesings skep geleenthede vir kinders om hul gawes te ontwikkel. Tog raak dit verkeerdelik ‘n maatstaf waarmee kinders geweeg voel. As jy nie die verhoog haal of die balkie ontvang nie, voel jy geweeg en te lig bevind. Baie sug en worstel met die vraag hoekom hulle nie goed genoeg is nie. Jesus vra: hoeveel broodjies het jy?

Wanneer ‘n seuntjie sy broodjies en vissies vir Jesus gee weet hy nie wat die uitkoms gaan wees nie. Die dissipels is net so verras. Met ‘n bietjie maak Jesus baie.

Wanneer ek lees oor die gawes wat ons ontvang, lees ek die sinnetjie wat ons soms mis…dat dit tot voordeel van die hele gemeente moet wees. In die fliek Spiderman, is dit sy oom wat hom raad gee: “With great power comes great responsibilities”. Dit wat ons kry het net waarde as dit ook tot voordeel van ander kan wees.

Die Prediker maak ‘n interessante waarneming: “Dit is nie die vinnigste wat die resies wen, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie die met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie die met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid…” Soms loop die lewe onverstaanbare paaie. Moet ons aanhou probeer en aanhou glo. Elkeen se seisoen lyk anders. Elkeen bereik die kruin op ‘n bepaalde tyd.

Wanneer Jesus aan die dissipels die opdrag gee om die mense kos te gee, is dit ‘n oorweldigende opdrag. Wanneer die orkeslede gemeet word aan hul musiekkennis, is dit dalk te min. Wanneer kinders se punte opgetel word en medaljes neergeskryf word kry sommige ‘n uitnodiging en ander nie. Wanneer die span se plan nie werk nie, die drie nie toegeken word en die skop pale toe nie oor is nie, is die verloor groot en die span ‘n mislukking.

Jesus vra: hoeveel brood het julle?

Ons kyk graag wie die meeste brood kan koop of die beste brood kan bak. Vir Jesus is dit irrelevant. Hy kyk wat jy het en wat jy vir vir hom gee. Wanneer jy jou toespits om jou gawes te gebruik, en elkeen die note speel wat hy kan, raak die orkes ‘n simfonie. Wanneer jou kinders leer om vriendelik te wees, ander met respek te behandel en altyd hul beste te doen, raak hul ‘n aangename geur vir die mense om hulle. Wanneer spelers aan passie en ywer gemeet word, raak die kritiek dalk minder en die uitkoms beter.

Wanneer die wêreld weeg, bly baie honger. Die Here se skaal weeg anders. Van min maak hy meer. Hy skep tyd en geleenthede en gee gawes met ‘n verantwoordelikheid. Hy maak die skaapwagter ‘n koning. Met jou broodjies kan hy ander ook voed.

Al wat Hy vandag by jou wil weet is: hoeveel broodjies het jý in jou hand?

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories