God laat groei
“Paulus het geplant, Apollos het natgegooi maar dis God wat laat groei het.”
Met die naderende graad 7 afskeid, kyk ek met nostalgie terug na die pad tot hier. Van klein borrelende graad eentjies tot twee jonge tienermeisies. So baie wat saadjies in hul lewe gegooi het, so baie wat natgelei het. God het laat groei.
Op die reis was daar hoogtepunte en laagtepunte, verrassings en teleurstellings. Baie vreugde maar ook genoeg trane. Groei-grond vir kaalvoet-kinders. Ek is dankbaar vir geleenthede en almal wat langs die pad gehelp het met onkruid uittrek, natlei en versorg. Ek is ook dankbaar dat ek daar kon wees om drukkies uit te deel, te motiveer, te troos, op te trek en dalk ‘n bietjie vorentoe te stoot. Weer probeer, kop optel, te wys na Jesus en dit wat regtig belangrik is.
By die hoërskool se prysuitdeling word daar kultuur, sport en akademiese toekennigs uitgedeel. Trotse ouers sit en wag dat hul kind se naam gelees word. Dankbaar is dalk die meer gepaste woord, want – ‘wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?’ Sommige word gebore as atlete, ander kan van nature mooi sing. Vir sommige kom leer eenvoudig net makliker as vir ander. Nie almal wat hard werk, presteer noodwendig nie. Baie harde werkers en getroue deelnemers behaal nooit die podium nie en word selde genooi vir ‘n toekenning, tog bring hul hul kant en daag altyd op.
Ek wonder vir ‘n oomblik hoe die Here se prysuitdeling sou lyk: Dalk sou die vraag eerder gewees het wát jy met die tyd, geleenthede en gawes gedoen het wat jy ontvang het? Miskien sou die Here amper soos in die gelykenis geantwoord het: “Mooi so, jyt hard gewerk met jou 2 muntstukke en dit verdubbel!” Dalk sou Hy vir karakter ander pryse uitgedeel het. Vir goedhartigheid, geduld en getrouheid ‘n goue serifikaat. “Jou omgeehart maak jou die sterleerder en vir aanhou probeer kry jy ‘n meriete sertifikaat. Dankie dat jy altyd opgedaag het!”
Paulus het geplant, Apollos het natgegooi maar dis God wat laat groei het.
Die grootste fout wat ons maak is om ons met ander te vergelyk pleks daarvan om ons deur God se oë te sien. Uniek gemaak, elkeen met ‘n rede. Sommige om hoog te groei, ander om skadu te maak, sommige om vrug te dra en ander wat eers later sal begin blom.
Mag die wat roem, in die Here roem.
Ek kry riglyne vir Hemelse trofees uit Sy woord: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.” Prediker 9:10. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” Kolossense 3:23. “Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig…” Kolossense 4:5.
Of jy plant, water lei, onkruid uittrek of takkies buig na bo…elkeen het sy eie taak. Met die kaalvoetdae wat ten einde loop, sê ek daarom dankie vir onderwysers en mentors op my kinders se pad. Ek is dankbaar vir pryse en trofees maar veral vir geleenthede waar hul menswees kon ontwikkel het. Ek loof die Here wat elkeen uniek gemaak het en ek bid Sy leiding toe in alles wat ons doen.
“Mooi so my kind!” Die hemelse trofee om na te strewe.
Sommige het geplant, ander het natgegooi….
Dis God wat laat groei….