“When Wild becomes Gentle”
Hy het sy raket menigmale stukkend gekap of sommer oor die draad gegooi. Hy was meestal gefrustreed met homself en het hom latere jare as ‘n “hot head” op die baan beskryf. Merkwaardig dat hierdie temperamentele seun sou uitstyg as een van die reuse in die tenniswêreld en sou uittree met die beskrywing as die “gentleman” op die baan. Roger Federer, een van die geliefste tennisspelers.
Uiteindelik het hy begin leer om te fokus en sy emosies onder beheer te hou. Deur dít reg te kry kon sy natuurlike spel na vore kom en hy sy beste tennis speel. ‘n Ander belangrike eienskap van Federer was dat hy verloor kon hanteer, dikwels in kritieke tye van sy loopbaan wanneer dit die seerste gemaak het. In ‘n artikel, Inside the mind of a Grand Slam Champion, word vertel van sy groot verloor in die epiese Wimbledon finaal in 2008 teen Rafael Nadal wat 4 ure en 48 minute geduur het. Hy was verslae na die wedstryd, soos almal wat dit gekyk het. Toe hy die volgende jaar gevra is hoe lank dit hom gevat het om daaroor te kom, het sy antwoord verras. “About two hours.” Hy kon dit regkry om die wedstryd in perspektief te sien en aan te beweeg.
In ‘n week waar ek self baie op en af oomblikke beleef het, is dit lekker om oor Rodger Federer te lees. Soms dra ‘n mamma haar kind se trane en teleustellings swaarder as haar eie en moet ‘n mens leer hoe om aan te beweeg. Op ‘n manier voel ek soos Dawid wat kan dans voor die Here maar ook kan worstel en baklei. Dan klim ek die berg op, vee die sweet af en gooi my waaroms op die grond neer totdat ek uiteindelik Sy stem hoor. Wag op My.
Perspektief kom soms uit vreemde oorde. Die onderwyser by die Hoërskool naby die informele nedersettings wat vertel van die kinders wat altyd laat is, meestal omdat ouers afwesig is en hul eers na hul eie boeties en sussies moet omsien. Of die pasient wie se verhaal terloops op die tafel beland soos ek uitvra. Haar ma is dood aan kanker toe sy 13 was. “Dit was moeilik, miskien omdat my pa 4 jaar voor dit ook dood is aan kanker.” “Waar het jy gaan bly?”,wou ek weet. “Pleegsorg.” Sy kyk ‘n oomblik weg en ek sien die spiertjie in haar wang klop. Die enigste teken van die trauma wat sy in haar kinderjare beleef het. Ek raak stil en besef opnuut hoe min ons weet, hoe min ons verstaan. Perspektief kom soms wanneer ons ons oë en ore oopmaak en ander se trauma beleef.
Rodger Federer het gewys dat ‘n mens kan terugbons na terugslae, dat wen en verloor belangrik is maar nie jou uitkyk hoef te bepaal nie. Hy het ons geleer dat jy ‘n keuse het hoe jy op dinge reageer. Dit het egter nie vanself gekom nie. Sy grootste rolmodel en invloed het gekom van die Australiese tennisspeler en afrigter, Peter Carter wat die saadjies van goeie gedrag geplant het. Soms is ‘n onderwyser die enigste oor wat hoor van kinders alleen by ‘n huis. Die drama juffrou was my pasiënt se anker in die moeilikste tyd van haar lewe. Onwetend kan ons mekaar optrek of afstoot.
Vandag is ek dankbaar vir Dawid se Psalms. Wat ons leer na wie om te vlug en dat dit ok is om jou hart voor die Here uit te stort. Wat jou by waters van rus kan bring en selfs by die plek waar jy dit regkry om weer in die nag ‘n lied vir Hom te kan sing.
Wanneer ek die foto sien van blommetjies op ‘n sypaadjie en lees dat dit ‘n eksperiment was waar kinders saadjies in die krake moes gooi, raak ek amper hartseer maar tog dankbaar oor die voorreg wat ons het om ons kinders te kan lei, nie net om saadjies te saai nie, maar ook met die wete dat die Here in al ons krake iets moois kan laat uitkom.
Die wilde seuntjie het ‘n ‘gentle’ man geword…