Wanneer ‘n groot boom val…

In die week het daar 2 groot bome geval. Die eerste boom is in ‘n klein woud waar ek graag hardloop. Ek staan verstom en kyk na die massiewe boom wat oor die paadjie lê. My hart voel eintlik seer. Ek wonder hoeveel wind en weer die boom trotseer het en hoe oud hy regtig was? Die stormwind was een te veel na die brand se skade ‘n maand tevore. Ek kyk op na die ander bome wat nog staan. Hoë bome met groen blare wat wapper in die wind, maar onder is die bas donker van die vuur se skade. Wanneer is ‘n boom dood, wonder ek skielik? Wanneer die blare verdroog en die stroom ophou vloei?

Die tweede boom wat geval het was self 96 jaar oud. Geliefd en bemind. Beter bekend as Queen Elizabeth . Die wêreld rou en baie is hartseer, maar in hierdie geval is daar tog troos. Haar wortels was nooit sonder anker nie en haar blare het groen gebly tot aan die einde. Op koerantvoorblaaie pryk verskeie foto’s van die “Queen” . Haar hare op sommige foto’s gryser as ander, maar dis die glimlag wat deurlopend dieselfde gebly het. Ons leer ken die verhaal van ‘n 25-jarige meisie wat eintlik teen die verloop van die geskiedenis koningin geword het. Baie van haar bekende frases word aangehaal maar een tref my die meeste:” To many of us, our beliefs are of fundamental importance. For me the teachings of Christ and my own personal accountability before God provide a framework in which I try to lead my life. I, like so many of you, have drawn great comfort in difficult times from Christ’s words and example.” Ek kry ‘n knop in my keel.

Wat is die raamwerk waar binne ek leef? Psalm 1 beskryf iemand wat vreugde vind in God se woord, as ‘n boom wat by waterstrome geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Jeremia 17 bevestig dat iemand wat sy vertroue in die Here stel, soos ‘n boom is wat by water geplant is en sy wortels na die stroom uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie, altyd groen blare het, nie geraak word deur ‘n droë jaar nie en nie ophou om vrugte te dra nie.

Jannie Putter daag my uit om die lewe en sy heuwels nie as ‘n toets te beskou nie, maar eerder geleenthede daarin raak te sien. Soms is dit moeilik, veral wanneer mense jou teleurstel of dinge nie uitwerk soos jy dit beplan het nie. Dis dan wat mens moet besef dat dit nie genoeg is om langs die water geplant te word nie. Jy moet jou wortels uitstoot na die stroom. Soms moet jy die lig gaan soek. Vir die Queen of England was Jesus se woorde en voorbeeld juis dit wat haar in moeilike tye gedra het. “I know just how much I rely on my own faith to guide me through the good times and the bad. Each day is a new beginning, I know that the only way to live my life is to try to do what is right, to take the long view, to give of my best in all that the day brings, and to put my trust in God….”

Soms het ons geen beheer oor vlamme en stormwinde wat op ons pad kom nie en soms maak ons foute wat ons die wedstryd kos. Uiteindelik is ons anker die verskil tussen ware lewe en dood. Die groot boom se werk was voltooi. Ek kon oorklim en verder hardloop. Die Queen se aardse wedloop is ook voltooi maar haar nalatenskap en haar getuienis leef voort.

Vandag staan ek stil. Haar openlike getuienis oor Jesus as haar verlosser bly die grootste inspirasie. Ek kan nie help om aan die woorde te dink van Jan Celliers se gedig aan Generaal de Wet nie, al is dit polities erg ironies dat ek dit vir haar sou wou leen. “Stil vriende, daar gaan ‘n vrou verby, sy groet, en dis verlaas. Daar’s nog maar één soos sy, bekyk haar goed…”

Ek sien haar sagte wuif. Sy was ook maar net ‘n mens soos ek en jy. Uiteindelik word elkeen opgeroep om sý taak uit te voer. Groot of klein,  so goed ons kan. Tot Sy eer. Deur Hom, tot Hom en vir Hom. Ongeag die tyd waarin ons leef.  Die geheim is om naby die water te bly en bereid te wees om ons wortels na die stroom te stoot. Dan raak ons bome van hoop…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories