Om hoopgewend te lewe

Dis skemer buite.  Eintlik nog ‘n bietjie donker. Ek hoor die voëltjies sing. Opvallend. ‘n Paar weke gelede hierdie tyd was hul nog stil…Lente in die boland, al voel dit met tye nog yskoud. Die seisoen is werklik besig om te draai. My gedagtes stap ver paaie terug. Toe ek nog in die Bosveld gesit het en ek al my bekommernisse voor die Here se voete neergesit het. Ek het my kitaar gevat en note begin tokkel. Daar was rustigheid in my bosveldtuin en die lied se woorde het spontaan oor my lippe gekom: “Wat maak dit saak wat voorlê en wat daar op ons wag, ek hoor weer die tortelduiwe sing…” ‘n Vrede het in my hart kom nes maak….solank jy nog die voëltjies hoor, moet jy onthou dat Ek vir jou sorg….

Dis sowaar 10 jaar later. Ek kyk  steeds verwonderd terug. Hoe alles op sy tyd in plek geval het. Die laaste was ‘n huis in die Kaap. Die kant toe en daai kant toe…Ek onthou hoe ek uiteindelik by die nuwe leë huis se agterdeur gestaan het. Dankbaar, maar tog met ‘n tikkie teleurstelling. Die huis het aan soveel van ons behoeftes voldoen maar was in ‘n besige straat. “Here, ek weet nie hoe ek die voëltjies hier gaan hoor nie”, het my hart sag gefluister.  Miskien het Hy geglimlag, want vroeg die volgende oggend is ek verras met singende voëltjies by my kamervenster. Agter die huis was ‘n groen strook waarvan ek onbewus was. Ek het opnuut Sy stem gehoor: “Ek sorg vir jou.”

In die week vind ek ‘n tydjie om by my geliefde natuurreservaat te gaan stil word. Daar is baie vinknessies rondom die dam. Dis ‘n plesierige besigheid ver verwyderd van die miernes van mense en besighede net ‘n klipgooi daarvandaan. Die berg troon kalm in die verte en die lied van Wande de Koch kom in my gedagtes. “As ek stil word om by U te wees, bedaar my hart se donker vrees. As ek U hartklop teen my wang kan voel, verstaan ek wat U woord bedoel. U is wonderbare Raadsman, U is Magtige God, U is ewige Vader, U is vredevors….”

Ek wonder vir ‘n oomblik of jy stil word wánneer jy die voëltjies hoor en of jy hulle hoor ómdat jy stil word.  Ek wonder steeds. Dalk ietsie van beide.

Een van die sprekers op Radio Kansel deel sy raad aan mense waar om te begin wanneer die lewe skewe houe uitdeel. Hy laat dit eenvoudig klink: Tyd by Jesus se voete. Ons weet dit en tog raak ons vinnig verstrengel in die wêreld se toue. Ons begin en eindig  ons dag op ons fone en raak vasgevang in slegte nuus, die werk se stres en die gejaag na wind. Stilword staan agter in die ry terwyl ons wonder waarom ons moeg bly. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak.” Ps 127:2

Jesus het self sy krag in stilword gaan soek.

Met lentedag pluk ek ‘n blom. Ek onthou die blommerokkies waarmee ons vrolik skool toe gegaan het. Dikwels was dit vriesend, maar ons was gelukkig. Ek kyk om my rond en sien hoe mense kleur verloor het. Net nog ‘n dag.

In die kerk deel iemand sý idee van hoop: Om hoopgewend te leef begin met ‘n glimlag. Soms ietsie kleins. Hoopgewend…. ‘n nuwe woord vir my, maar dalk ‘n ander manier om na die lewe te kyk. Wanneer ‘n nuwe pasient ver ry om my te kom sien en ek eintlik min doen behalwe om te luister, is dit haar stywe dankie drukkie aan die einde wat my herinner wat almal nodig het. Iemand wat luister.

Wanneer ek self na die voëltjies luister, ervaar ek die Here se sorg en bedaar my hart se vrese. “Hoeveel te meer sal ek nie vir julle sorg nie?” Ek leer om iets van Dawid se vrede te beleef:  “Hy laat my rus in groen weivelde, Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag”.

Die Bron van Hoop is net ‘n gebed ver, tog laat ons toe dat ons besige lewens ons beroof van dit was ons die nodigste het. Stilword by Jesus, sonder ‘n selfoon. Die kragbron wat ons hoopgewend maak.

Kyk na die lelies, luister na die wilde voëls….ons hemelse Vader sorg vir hulle. Wees stil en weet, Ek is die Heer.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories