Troefkaart van Hoop

Dit was ‘n moeilike oggend. Die waterpyp het gebreek, my ma was oppad hospitaal toe en ek was reeds laat. Ek het vinnig by die bure gaan stort. Oppad werk toe het ek die radio afgesit. Moeg vir nog negatiewe nuus. My gedagtes het my geneem na my vriendin se man wat al amper ‘n maand in ICU gelê het en na ‘n ander vriendin wat haar seun se 11de verjaarsdag op Facebook as bittersoet beskryf het- sy eerste verjaarsdag na sy pa se dood.  Almal met hul pakkies vir die dag. Oppad werk toe, soos baie ander, om jou bagasie in die kar te los en net aan te gaan.

Naby die werk het ek verby ‘n informele nedersetting gery. My oog het ‘n vroutjie gevang wat ‘n kind gedra het. Ek kon nie help om te wonder of die kind dalk siek was en sy oppad kliniek toe was nie, vir ‘n lang dag se sit. Die afgelope naweek het ek ook ‘n siek kind van die toer afgekry. Ons omstandighede was anders. Ek kon haar in ‘n warm bed sit en die volgende dag self medisyne kry. Haar koors was twee dae later weg en sy was gou beter. Hoe hou ‘n mens kinders gesond in die kaapse winters as jy in ‘n sinkdakhuisie bly, het ek gewonder?

My stiltetyd het uit Romeine gekom: “Swaarkry kweek volharding, volharding kweek egtheid van geloof, egtheid van geloof kweek hoop….en die hoop beskaam nie….” My swaarkry lyk anders as jou swaarkry en my pakkie anders as joune. Van baie dinge het ek min begrip. Tog het elkeen sy eie “battles”. Elke ma is bekommerd as haar kind siek is, maar ons toegang tot medisyne verskil. So baie mense loop met bagasie waarvan ons min weet. So baie loop sonder hoop. Dikwels trek ons mekaar af in ons hooploosheid. Ons kla en sug en sien later net die negatiewe. Dan onthou ek Amore Bekker se sin op RSG. Kort en kragtig. Daar is baie goeie mense. Punt. Amen, want dis waar. Dit gee hoop….

Hoop, die eindpunt te midde van swaarkry, die uitvloeisel van geloof. Ook daar waar die koors nie wil breek nie of waar die lewe onregverdig loop. Nie gekoppel aan ‘n sinkdak of ‘n huis in ‘n mooi woonbuurt nie. Die flammetjie wat juis brand wanneer daar geen ander lig is nie. Wat maak dat Abraham steeds kon glo. Hoop is die troefkaart van elke gelowige omdat hoop nie ontstaan uit dinge wat jy weet of kan sien nie, maar gebore word uit iets groter as jyself.

In hooplose tye het ons die geleentheid maar ook die  verantwoordelikheid  om saadjies van hoop te bly saai. Ons is nie bedoel om ander se hoop weg te neem nie. As jy self nie in ‘n toekoms glo nie het jy geen reg om ander hul toekoms te ontneem nie. In die sinkdakhuisie brand daar dalk ‘n kers waarvan jy min weet. Is daar iemand wat bid en glo. In my kind se hokkiemaat van Khayelitsha hang haar Wp foto trots teen die muur. Net omdat ander met eie vervoer opdaag en sy afhanklik is van ‘n taxi, beteken nie dat sy geen hoop het nie. Sy is ook nie minder werd as die ander nie.

Hoop kyk verby jou omstandighede. Dit laat jou opkyk en help jou om vorentoe te loop….hoop beskaam nooit nie…”want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons toevertrou het.” Romeine 5:5

Nie uit onsself nie, maar alleen uit Hom… Dáárom kan ons werk toe ry met al ons pakkies. “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie, daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Klaagliedere 3:22.

Hoop, die troefkaart vir almal wat glo….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories