Wat hul onthou

Sy’t my die skakel aangestuur van haar pa se begrafnis in New-Zealand. My hoërskoolvriendin en hokkiemaat. Ek was tuis in hul huis. Haar ma het innemend getuig oor haar pa se lewe en die Vrug-van-die-Gees houtwerk gewys wat hy gemaak het, in geglo het, maar meer nog, gelééf het. Ek word hartseer wanneer die kinders hul laaste kosbare oomblikke deel, maar ek voel dankbaar om te kan beleef watter impak hul geloofslewe ook daar ver op ander gemaak het.

In my eie dorp sterf ‘n oud-swemjuffrou aan kanker. My kinders onthou min van die swem, maar hul onthou haar sagte lyf, haar glimlag en omgeehart. Hulle is hartseer. Haar dogter getuig van die mooi, maar veral van die vrede in haar ma se hart.

‘n Paar maande gelede hoor ons van die onverwagse dood van ‘n bekende koerantverkoper in die Strand na ‘n kort siekbed. Haar glimlag en wuif met die hand, altyd op haar pos in wind en weer, het harte gesteel. Onwetend het sy soveel mense aangeraak.

Die wyse woorde van Maya Angelou spreek tot my: “People will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel.”

Wanneer my dogter in haar koshuis gekonfronteer word deur vriendinne wat óf nie glo nie, of sukkel om te glo, erken sy dat sy nie geweet het hoe om hulle oor alles te antwoord nie. Dan lees ek van die oud-satanis, Riaan Swiegelaar wat weer begin glo het omdat hy vir die eerste keer onvoorwaardelike liefde ontvang het, sonder dat hy aanvanklik geweet het dat die persoon ‘n Christen was. ‘n Omgeehart op die regte tyd het soms meer waarde as woorde en argumente.

Dink ek aan my vriendin se pa se begrafnis daar ver, besef ek dat ‘n sakeman, ‘n swemafrigter en ‘n koerantverkoper iets wonderliks in gemeen gehad het: Jesus se liefde en die manier hoe hul ander laat voel het. Dis wat ons inspireer en rigting gee hoe ons moet leef.

Ons almal word daagliks gekonfronteer deur ongelowiges en mense wat sukkel om te glo. Hoe ons hulle laat voel, het dalk ‘n groter uitwerking as al ons woorde en dade. Bly “real”en bly lief, is my antwoord vir haar. Onwetend saai ons daardeur dalk baie meer saadjies vir eendag se glo.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories