Reis van drome

Parys, Rome, Switserland, Griekeland, Ysland, Engeland, Ierland…die fotos op sosiale media was oorweldigend. My hart het verlangend saam gereis en my voete het gejeuk om saam te toer. Dit was asof covid se inperkinge almal skielik losgelaat het. My hart het gesug. Tussen my kinders se sporttoere en student op universiteit was daar beslis geen nabye beloftes van oorsese reise nie. Skielik het ek die uitdrukking onthou: “Somewhere, somehow, you are living someone else’s dream”. Die vinger het reguit na myself gewys.

Ek het ‘n werk, ‘n man, kinders, ‘n huis, ‘n kar en boonop was ek self onlangs op vakansie. ‘n Heerlike reis in ons eie land. Tog meet ons ons so dikwels aan ander en vergeet dan al die wonderlike dinge op ons eie pad. Wanneer ek ‘n sonar doen vir ‘n pasiënt, sug sy teleurgesteld wanneer dit lyk of dit weer ‘n dogtertjie is. Ek kan haar verlange na ‘n seuntjie verstaan maar as die volgende pasiënt in trane worstel hoekom sy steeds nie swanger is nie, plaas dit dinge in ‘n ander perspektief.

Kyk ek na myself en my hunker om weer te reis is daar niks fout om te droom nie maar dit mag nie toelaat dat dit jou of ander se geluk steel nie. Vir alles in die lewe is daar ‘n seisoen en ‘n tyd om dinge te doen of geleenthede te skep. Soms is dit in jou vermoë en soms moet jy dit gaan soek. Nie alle drome word waar nie maar min dinge gebeur as daar nie oor iets gedroom word nie.

Soms is ander se drome ‘n manier om ons te inspireer en ander kere neem dit jou terug na paaie wat jy self reeds gestap het. ‘n Voorreg as jy plekke kon besoek het waarvan ander steeds oor droom.

Terug by die werk hoor ek dat my jong pasiënt met die chroniese siekte in die hospitaal opgeneem is. Wanneer ek haar moedelose stem hoor is daar min wat ek vir haar kan sê behalwe om te pleit…”Hang in there”. Hou vas aan die lewe, maar meer nog, hou vas aan jou drome!

Ek dink weer aan al die mooi prentjies van mere, stede, kastele en katedrale. Ander se drome wat waar geword het. Tog ken ek ook mense wat op soveel plekke was maar steeds hunker na geluk. Wat alleen moet reis en verlang na ‘n huis om na terug te keer. Daar is dinge wat geld nie kan koop nie. ‘n Fyn balans. Tussen leef uit ‘n tas en drome najaag is daar min dinge so lekker as om uiteindelik weer in jou eie bed wakker te kan word.

Reis van drome. My drome, jou drome en ander vir wie óns werklikheid hul grootste droom is. Mag ons vandag ons brood met vreugde eet en in die oomblik leef. Mag ons onsself en ander toelaat om te droom maar mag ons bo alles Sý droom vir ons lewe ontdek: ‘n Lewe in oorvloed. Hy nooi ons om ons begeertes vir Hom te gee. “Deur gebed, smeking en met danksegging”, Fillipense 4:4.

Ons drome is veilig in Sy hand.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap