Vorentoe, tree vir tree.
“Mamma, help my om te vergeet.” Die opskrif tref my oog. Ek lees dat dit ‘n seuntjie se versoek was na aanleiding van ‘n busongeluk wat hy oorleef het. My hart gaan uit na hom. Dan spring my gedagtes na die kinders in die Texas skoolaanval. Ek kan nie help om ook te dink aan die enkeles in die klas wat oorleef het nie. Watter trauma moes hulle nie deurgemaak het nie? Die geweerskote, maats wat om jou doodgeskiet word, selfs jou juffrou. Hoe vergeet jy dit? Hoe beweeg jy aan?
Twee jaar na die tragiese Kalahari brand waar drie gesinne se lewens verwoes is, lees ek in die Lig tydskrif hoe Wilmien Davin saam met haar seuntjie leer opstaan en aanbeweeg. Dan noem sy hoe haar sielkundige haar toelaat om terug te kyk, maar steeds vorentoe te loop. Dis ‘n mooi manier om daaroor te dink. Die grootste wenk vir haar was uit ‘n aanhaling wat sy gekry het: “The best way to cope with grief is to learn to celebrate life.”
In my stiltetyd uit Johannes 21, haak ek vas by Petrus. Die man waarop Jesus sy kerk wou bou. Ek kan nie help om te wonder of hy ook gesukkel het om nie terug te kyk nie. Al het Jesus opgestaan het die haan dalk steeds in sy kop gekraai. Miskien was dit een van die redes waarom hy een aand opspring en aankondig dat hy gaan visvang. Nodige stilword tyd. Onbewus soekend na iets om sy honger te stil. Die hele nag vang hul niks vis nie. Dan lees ons dat Jesus op die strand staan en wag. Dis hy wat voorstel dat hul die net aan die ander kant van die boot moet gooi. Eers wanneer die nette oorloop van die vis besef hul dat dit Jesus was. Petrus spring opgewonde uit die boot om by Hom te kom. Op die strand wag daar ‘n vuurtjie met ‘n vis op, asook brood. Jesus nooi hul om saam te eet. Eers daarna, toe die dissipels gevoed is en rustig by Hom sit, spreek Jesus Petrus se eintlike honger aan. In plaas van verwyte help hy hom om sy eie hart raak te sien. “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.”
Ek ervaar iets besonders in die gedeelte. Jesus ken ons soeke, ons honger, gedagtes en verwyte waarmee ons soms leef. Hy ontmoet ons op ‘n sagte manier daar waar ons is. Jesus help vir Petrus om op die “nou” te fokus. Hy herstel sy seerkry en plant ‘n nuwe visie in sy hart. Petrus word die rots wat hy bestem was om te wees.
Ek glo dat die Here wíl dat ons die lewe moet vier. Wanneer Ivor Swartz tydens ons pinksterreeks sy hart met ons deel, sy passies maar ook sy eie stryd met depressie, is dit die refrain in sy gedig wat keer op keer uitskree: Kies die lewe, ongeag. Wanneer Wilmien by die Here wil weet hoekom sý nog lewe, kry sy dieselfde antwoord: “Om te leef!”
Ek ken nie die seuntjie se busstorie nie, ek weet ook nie hoe die Texas kinders hierdeur moet kom nie. Wat ek wel weet is dat Jesus ons nie los nie. Hy ken ons harte, one soeke en visvang oomblikke. Hy ontmoet ons daar waar ons is en wys ons hoe om die lewe te kies. Soms laat hy ons toe om terug te kyk. Hy maak egter seker dat ons saam met Hom tree vir tree vorentoe bly loop…
“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting….” Jeremia 29. “Kies die Lewe”, Moses se opdrag in Deuternomium 30. Ook vandag.