Is daar hoop?
Ek kon sien dat hy moeg was. Die laat aande het sy tol geëis. Ek was bang dat hy boonop besig was om siek te word. Toe hy sy liggie afsit het ek my Bybel oopgemaak. Jesaja 40 het oopgeval. “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hul fleur struikel en val, maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” In die donker was dit my gebed vir hom. Arendsvlerke.
In die week kom die woorde hoop en vertroue gereeld op waar ek iets luister of dinge lees. Op Radio Kansel draai die gesprek vroegoggend na Matteus 6 se sorge van die lewe. Jy kan nie God dien en mammon nie. Ds Johan Els lig Psalm 135 uit. Hulle wat op silwer vertrou raak soos die standbeelde wat hul maak. ‘n Beeld met ‘n mond, oë en ore wat nie kan praat, sien of hoor nie.
Wanneer die pasient voor my sit en haar geskiedenis vertel wonder ek later waarom sy my regtig vandag kom sien het. Haar antwoord bring my tot stilstand. Is daar hoop?
Iemand vra in die week wat die verskil is tussen optimisme en hoop. Optimisme is uitkoms gedrewe. “Die Springbokke gaan wen, dit gaan ‘n perfekte dag wees…” Hoop is om op God te vertrou, ongeag die uitkoms.
Dink ek aan die tempo van die lewe, die brandstofprys en mense wat soekend bly, besef ek hoekom ons swaar kry. Ons stel ons vertroue in die verkeerde dinge. Mammonbeelde verkrummel, mense stel teleur, natuurlike optimisme verdwyn en hoop raak iets van die verlede.
Is daar hoop?
Ek kan nie waarborg dat jy swanger gaan raak, gesond gaan word of die werk gaan kry nie al wil ek met tye net so optimisties wees. Ek kan jou wel die herfsblare gaan wys, die nuwe maan en die son wat sak. Ons hoop is in die Here wat die hemel en aarde gemaak het.
Dankie tog dat ek vir my kinders kan bid en medisyne kan gee vir die een wat siek is maar eintlik is dit die gawe van Hoop wat ek regtig aan hulle wil gee. Die verskil tussen díe wat oorleef en die wat later net bestaan… Geloof, hoop en liefde. Die anker vir ons lewe.
En ja, daar is hoop…altyd.