Genadepakkies

Ek het haar gebel met die uitslag en kon die spanning in haar stem hoor. “Dis ‘n goedaardige gewas”. Sy wou seker maak. “Dis nie kanker nie?” Ek het dit beaam. “Dankie Here!”, het sy in trane uitgeroep.

Genadepakkies

In dieselfde week kry ons die boodskap dat ‘n juffrou van ons skool haar stryd teen kanker verloor het. Die nuus ontstel my. Sy was my oudste se graad 4 en later ook my seun se graad 7 juffrou. Haar dogtertjie is maar 6 jaar oud. Ek hoor dat sy die afgelope paar maande baie siek was en hard baklei het. Moeilik om te verstaan. Genade sonder genesing.

Wanneer Jesus na sy opstanding aan die dissipels verskyn, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Hulle glo sonder om te vra. Thomas raak bekend as die ongelowige omdat hy hardop erken dat hy nie sal glo as hy nie die merke van die spykers gesien en aan Hom gevoel het nie. Genade is wanneer Jesus aan hom verskyn, in sy twyfel, sodat ook hy kan glo. Genade is dat ons glo sonder dat ons gesien het. 

Die dissipels kruip weg agter geslote deure. Hulle leef in vrees vir die Jode. Jesus se genade strek verder. Hy bring kalmte met ‘n tydlose stelling: “Vrede vir julle.” In die genadekamer word vrede deur geloof gebore. Dit word die deurslag van hulle getuienis.

In ‘n moeilike week by die universiteit is my oudste emosioneel. Sy ervaar ander se seerkry direk en dit word haar eie seerkry. Daar is nie trooswoorde nie en sy druk haar gevoelens uit in ‘n gedig asof dit sy is wat die slagoffer is. Dis groeigrond wanneer sy met ander daaroor praat en leer van ander se gevoelens. In my stiltetyd wonder ek daaroor. “Vrede vir julle,” is die antwoord wat ek kry. Jesus bring troos en antwoorde wanneer ons na Hom soek.

Op RSG vertel ‘n predikant in Natal hoe hy gevoel het toe vloedwaters sy huis oorval het. Aanvanklik het hy paniekerig dinge probeer red totdat hy skielik besef het dat sy vrede in die Here lê. Dit het hom kalm gemaak sodat hy uiteindelik op die kant kon staan en toekyk. Vandag vorm dit deel van sy getuienis.

In my binnekamer word ek stil terwyl ek oor alles dink. Vandag bid ek Jesus se vrede toe vir die een wat bekommerd is oor ‘n uitslag, die een wat dalk sterwend is aan kanker, die familie wat agterbly, hulle wat sukkel met seerkry, onregverdigheid en liefdeloosheid. Ook hulle wat dinge verloor het of ander se laste help dra. Vrede vir julle. Geloof laat ons na God draai, en wanneer jy Hom soek, is dit Sy vrede wat in jou hart kom nes maak.

Vrede, ten spyte van. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan. In die stormweer en in ons deurmekaar wêreld. God se genadepakkie aan ons is geloof. Die uitkoms is vrede. Sý vrede.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap