Om te hardloop na die chaos…
Wanneer die bomme in Sirië val, het die mense geleer om weg te kruip en skuiling te soek. Daar is egter een groep wat na die chaos hardloop om te gaan help: Die Sirië White Helmet groep. ‘n Groep vrywilligers met die motto,”to save one life is to save all of humanity.” Dis Ivor Swartz aan die woord tydens ons pinksterweek. Hy vertel van die dokumentêre film op TV. Sy laaste aand se tema is om met ‘n dringendheid vir die evangelie te leef. Dis ‘n kragtige aand en die boodskap en musiek is inspirerend. Ek stap uit met ‘n warm hart.
Laat die aand gaan sit ek met ‘n koppie tee. Ek kyk na die hoofopskrifte van die dag se gebeure. Dis swart en donker. Politiek, moord en ‘n stygende brandstofprys. Ver verwyderd van ‘n mooi aand in die kerk. Of dalk nie. Sy oproep was dan juis dat ons bedoel is om na die chaos van die wêreld te hardloop. Ons is nie net bedoel om Jesus te kies nie, ons is bedoel om Sy hart vir ander te wys.
In die week se reeks wys hy gevaarpunte uit. Dat ons soms so deel word van die sekulêre wêreld dat daar later min onderskeid tussen ons en nie-Christene raak. Dis veral ons jongmense wat hiermee gekonfronteer word. Ook mense wat na ander lande emmigreer. Elke ou vir homself. Jou geloof is persoonlik.
Ons leef in dankbaarheid dat ons die pad na die ewigheid ken. In ons gemaksone leer ons ons kinders van Jesus. Ons gaan kerk toe en is dankbaar dat ons vrylik mag aanbid. Tog raak ons kragteloos en sonder impak. Ons kla oor die onregverdigheid van die lewe. Ons is bekommerd oor die misdaad en hoe duur die lewe raak. Ons is lief vir Jesus maar sukkel om Jesus se liefde vir die wêreld…hierdie wêreld te verstaan.
Die antwoord geld vir ons almal. Bly waak en bid. Wees oop vir die Heilige Gees en wakker vir die regte geleentheid om te deel en te getuig. Ervaar die dringendheid om ‘n verskil te maak daar waar jy beweeg.
Baie mense leef sonder hoop, soos bootjies op die see, sonder rigting. Pinkster is die tyd waar ons opnuut Jesus se opdrag moet vat en sy getuie moet word. Met en sonder woorde. “To safe one life…” ‘n Dringendheid wat ons moet vat, vir die Gees om te oortuig, vir ons om net te getuig. Jesus se opdrag.
Hardloop na die chaos….’n tyd om anders na die lewe te kyk.