Nogtans

In my studentejare was ek destyds betrokke by ‘n uitreik aksie waar ons Sondagaande in die hospitaal vir pasiënte gaan sing het en vir hulle gebid het. Op daardie tydstip was daar ‘n jong man wat in ‘n fratsongeluk sy nek gebreek het. Hy was ‘n eerstejaar student wat landbou studeer het en boonop ook goed rugby gespeel het. Terwyl hy in die intensiewe sorg gelê het, het hy ‘n spesiale versoek gerig dat ons asseblief ook vir hom kom sing. Sy liedkeuse het ‘n blywende indruk op my gemaak: Habakuk 3 ….”Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie..nogtans sal ek in die Here jubel.” Ek kon nooit weer die lied sommer net sing sonder om aan Bles te dink nie….

Die storie vind sy oorsprong uit ‘n onlangse boodskap deur Ivor Swartz tydens ons pinksterreeks. Hy staan een aand stil by die woord, nogtans. Nogtans sal ek in die Here jubel, omdat dit is wat Hy van ons verwag.

In die week kou ek moeilik daaraan. Op een spesifieke dag sien ek 2 paartjies wat beide 8 weke swanger is. Die eerste paartjie stap met opgewonde oë in. Drie weke gelede het ek bevestig dat hulle uiteindelik, na drie jaar se probeer, swanger was. Tydens my ondersoek besef ek egter vroeg reeds dat daar fout is. Daar is geen hartkloppie nie. Terwyl trane oor haar wange loop probeer haar man desperaat antwoorde kry. Dis ‘n hartseer oomblik vir ons almal. Twee pasiënte later stap die volgende paartjie in. Hierdie keer is daar ‘n sterk hartklop op die skerm en ouers wat straal. Die lief en leed van hierdie onverstaanbare wêreld.

Nogtans sal ek in die Here jubel….ek sluk swaar. Dis nie altyd so maklik nie.

Tydens ‘n veldbrand in ons mooi dorp, sit mense in spanning oor die naderende vlamme. Skrikwekkende fotos word gedeel. Om te sien hoe die huis oorkant jou afbrand terwyl jy asem ophou maak die lewe nie maklik nie. “Nogtans”, bly ‘n vreemde woord.

In my hart voel ek benoud oor die lied. Is dit regtig iets wat ek kan sing? Sou ek dit kon sing as ‘n eerstejaarsstudent terwyl my drome aan’t skerwe spat, of as ‘n vrou wat begeer om swanger te word? Ek raak opnuut dankbaar oor die dinge wat ek asvanselfsprekend aanvaar. Gesondheid, kinders, ‘n beroep… My oog val op my skoonpa se Psalm: Ps112. “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus.”  Pa Anton met die stembandkanker wat keer op keer slegte nuus moes kry. Kliere uit, verspreiding na die werwels, stembande uit, nog kliere kwaadaardig. Hy bly onbevrees. Sy anker in Sy God.

Terwyl ek sukkel met die Habakuk lied, vind ek my antwoord in ‘n ander kosbare lied: “Ek wil naby aan U bly, soos ‘n kind op die Vader se skoot, dit is die plek waar ek hoor…en U tel my op, en dra my in U arms, en U tel my op, en laat my nooit weer gaan.”

“Nogtans sal ek jubel”, word nie gebore uit ‘n mooi hart of leë woorde nie, maar uit ‘n soekende hart. Dit vind plaas wanneer ek met my hart en begeertes, my seerkry en teleurstellings, op die Vader se skoot kom klim. Nie omdat ek bly raak oor my omstandighede nie, maar omdat ek leer om Hom daarmee te vertrou.

Habakuk se gebed word ‘n eerstejaarsstudent se versoek en ‘n kitaarspeler se lied. Nie omdat ons altyd kan nie, maar omdat ons probeer. Omdat Hy ons optel, ons vashou en ons krag gee. “The joy of the Lord is my strength”, Nehemia 8:10. Dalk ook Dawid se geheim.

My skoonpa is lankal in die hemel maar sy naam staan langs Ps112. ‘n Voorbeeld om na te streef. Soms wonder ek waar Bles is. Ek sou hom graag wou vertel van die blywende indruk wat hy op ‘n kitaarmeisie gemaak het.

Nogtans sal ek jubel…woorde met betekenis.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories