Herfsblare

Ek verkyk my aan die herfsblare. Daar is min plekke so mooi soos die Boland díe tyd van die jaar. Die lug is vars en die kleure helder rooi, geel en oranje. God se tuin.

Die seisoene gee ritme aan ons dolle gejaag. Dit wys dat God steeds in beheer is en dat daar ‘n tyd is vir elke ding. Wanneer ek ‘n spier in my rug trek tydens ‘n koue vroegoggend drafsessie, merk my seun later terloops op dat ek soos porselein raak. Ek glimlag daaroor. Die seisoen van porselein. Ek weet nie hoe ek daaroor moet voel nie maar gelukkig het ek genoeg wedloop T-hemde en medaljes van vroeër in my kas. Ek is deesdae net dankbaar vir elke sielsterapie-drafsessie waarna ek heel tuis kom!

My pad kruis in die week met twee verskillende kinders van dieselfde hoërskool. Een is kortaf met haar ma, wêreldswys en openlik oor sekere besluite. Ek ervaar donkerte rondom haar. Dan ontmoet ek die ander meisie. Borrelend en lig. Sy lag met oorgawe en straal vriendelikheid uit. Ek ervaar die Lig in haar en is dankbaar.

Daagliks maak ons keuses tussen lig en donker, reg of verkeerd. Soms is dit in klein besluite, ander kere groot dinge. Die wêreld trek ons weg van Jesus. Ons tyd raak min en ons stres raak meer. Angus Buchan vra in ‘n boodskap hoeveel tyd ons elke oggend met die Here spandeer. Dalk die probleem. Billy Graham het gesê dat ‘n lewe sonder God soos ‘n stomp potlood is. “It has no point.” Ek besef opnuut hoe nodig dit is om daagliks naby die Lig te sit, hoe nodig ons kinders ons gebede en rigtingwysers het.

Kyk ek op na die herfsblare sien ek ‘n seisoen van kleure. Dis ook die voorloper van die winter. Dalk moet ek juis genoeg energie opneem voor die donker koue met ons is en alles afgooi wat my vashou en verstrik. Mag ons lig leef, opkyk en die kleure vir ons kinders wys. Mag ons die lewe proe in sy volheid en nie verstrengel raak in alles wat negatief is nie. Porselein of nie, ek kies die lewe!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories