Met jou hande
“Wat doen jy met teleurstellings, ouma?” “Jy werk met jou hande,” haar antwoord. Ek wonder nogals daaroor. In plaas van om in ‘n hopie te gaan sit en huil, doen jy iets. Skryf hoe jy voel, teken iets. Sommige mense begin kaste regpak, my oom was graag sy kar, ander vaar in die tuin. Zantie Swanepoel verduidelik verder. Hande is die sigbare deel van jou hart.
In my stiltetyd lees ek die vorige dag dat ons sukkel met geloof omdat ons meer ingestel is op die eer van mense as van God. Dalk die grootste bron van ons teleurstellings? Wanneer Jesus tydens Palmsondag begroet word met hosannas weet Hy reeds dat dit dieselfde mense is wat minder as ‘n week later ook gaan uitroep: kruisig Hom! Wat ‘n teleurstelling moes dit nie wees nie. Jesus praat dan ook met Sy hande. Hy wys Sy hart vir ons. Oopgestrek en aan ‘n kruis vasgespyker lê Hy Sy lewe vir ons af. Vrywillig. Paasfees.
In die week moet ek twee van my kinders apart troos weens teleurstellings. Deel van die lewensskool van val en opstaan. Ek worstel met raad en antwoorde. Daar is nie altyd nie. Ek dink aan die hande-storie van die oggend. Dalk juis ook vir ons bedoel vandag. Ek leer hul om hul harte in gebed uit te stort voor die Here. Die eerste stap om te kan opstaan. Hou aan om in jouself te glo. Een teleurstelling hoef jou nie te definiëer nie.
In die nag draai ek ook my gedagtes na Hom. Dan tref dit my. Daar is baie dinge wat jy kan doen maar die maklikste is om jou hand in Sy hand te sit. Hy lei ons en vertroos ons. Hy trek ons op.
Paasfees. Ek kyk hierdie jaar anders na Sy hande. Ek sien daarin die sigbare deel van Sy hart. Vir my en jou. Al wat ons moet doen is om te glo. Hy nooi ons om Sy hand te vat.