Wat is jou GPS?

Ek het in die geleende kar geklim. Dit was ‘n Saterdagaand. Ons tennis ouers het saam gaan eet na die toernooi en almal was nou oppad terug na hul gastehuise. Ek het op my foon gekyk en met ‘n skok besef dat die battery pap was. Ons was by ‘n restaurant aan die ander kant van die stad en ek sou nie my GPS kon gebruik nie.  Sou ek my blyplek kon vind?

Ek het my vriendin gevra of ek net ‘n entjie agter haar kon ry tot ons by die meer bekende deel sou uitkom. Ek het stilweg gehoop dat ek my huis sou vind. Alles het goed gegaan. Ek het sekere bakens op my pad herken en geweet dat ek op die regte pad was. By ‘n verkeerslig het ek regs gedraai. Die huis was nie meer te ver nie. By die volgende verkeerslig het iets verkeerd gevoel. Ek het links gedraai maar na ‘n ruk omgedraai en die ander rigting gekies. Steeds was iets nie reg nie. Die pad het onbekend gevoel. Ek het ‘n klein bietjie angstig begin voel. Dit was reeds laat op ‘n Saterdagaand en ek was steeds nie by my huis nie.

Ek het begin bid. Here, asb help my. Ek het U hulp nodig.

Ek het omgedraai om terug te ry na die bekende deel. Waar sou ek stop om hulp te vra op ‘n Saterdagaand in ‘n vreemde stad? Ek het aanhou bid. Asb Here. Wys my die pad. Dis op daardie oomblik dat ek die pizza afleweringsmotorfiets voor ‘n huis gewaar het. ‘n Man het langs die motorfiets gestaan. Op die ingewing van die  oomblik het ek ‘n kans gevat en langs hom afgetrek. “Het jy dalk ‘n GPS?”, wou ek weet. Hy het geknik. Ek het die straatadres genoem. Dit was nie ver nie. Net voor die verkeerslig waar ek aanvanklik links gedraai het was ‘n ander pad regs wat ek die heeltyd in die donker gemis het. Ek was so dankbaar. “Jy weet dat jy die antwoord op my gebede was.” Hy het net geglimlag.  Ek het die straat gevind en my huis maklik daarna gekry. Ek kon nie genoeg dankie sê vir die Here wat my gehelp het nie.

Laat in die aand het ek besef dat ons in die lewe so afhanklik raak van ons GPS’e…al die dinge waarop ons ons vertroue stel. Ek sou nie eers daaraan gedink het om die Here te vra om my te help as my foon gewerk het nie. Dalk die probleem in vandag se tye. Ek het gewonder oor die pizzaman, hoekom hy nog daar gestaan het en wie nou eintlik so laat in die aand ‘n pizza wou eet. ‘n Groot God agter die stuur.

In my stiltetyd lees ek van die krisis by die bruilof waar Jesus toevallig ‘n gas was. Dan raak die wyn op en Maria noem vol vertroue dat die kelners moet doen wat Jesus vir hulle sê. Die water verander in wyn. Sy eerste wonderteken op ‘n vreemde plek. “En die dissipels het in Hom begin glo…”

Om in afhanklikheid van God te leef vra geloof. Die vra om opnuut te besef dat ons glo in ‘n Vader wat in die hemel is. Dit beteken nie dat ons nie moet beplan of voorsorg moet tref nie, maar dat ons moet waak om al ons vertroue op ons eie planne te stel. Ek is dankbaar dat ek met ‘n GPS kan bestuur waar die pad onbekend is, en dis goed so. Tog mag ons geen dag as vanselfsprekend aanvaar nie. Is dit nodig dat ons elke dag opnuut ons afhanklikheid van Hom besef.

Ek is dankbaar dat ons God groter as tegnologie is. Dat Hy ‘n pizza-bode met ‘n motorfiets op ‘n Saterdagaand kon gebruik. Ek is dankbaar dat Hy my gehelp het om opnuut weer te glo….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories