Vandag se brood
Die voëltjies maak my wakker. Dis later as gewoonlik. Ek hoor reeds karre wat op en af ry. In die nag was ek ‘n lang ruk wakker terwyl ek oor dinge gedink het en my soos gewoonlik oor iets bekommer het. Êrens moes ek ingesluimer het. Terwyl ek nog ‘n oomblik lê en na die voëltjies luister, is ek dankbaar dat dit hulle is wat my wakker maak en nie die geknal van ‘n missiel wat geboue tref of sirenes wat my moet waarsku nie. Net die vorige aand het ons op die televisie tonele gesien soos dinge in die Ukraine afspeel. Weermagvoertuie, soldate met gewere, jongmense met skietwonde, dokters wat moet help. Selfs ‘n pasgebore baba. Hoe vreesaanwekkend as jou langverwagte baba nou daar gebore moet word. Weg is die opgewondenheid, die viering van lewe. Ek voel naar as ek al hierdie dinge dink.
In my veilige bed voel ek amper skaam dat ek bekommerd voel oor die skoolure wat my kinders mis weens hul tennistoer. Ek wonder wanneer hulle die werk gaan inhaal, of hul genoeg vir die toetse sal kan leer en wanneer hul by klavier en viool oefening gaan uitkom. Êrens in die wêreld wonder mammas of hul more nog gaan leef. Waar gaan hul kos vandaan kom. Ek sien hoe sneeuvlokkies saggies in Ukraine val. Dis nog lank nie eers lente daar nie.
Wanneer Jesus sy dissipels leer bid, leer Hy hul om te vra vir ons daaglikse brood. Die teksvers kry nuwe betekenis vir my. Hy ken ons daaglikse behoeftes…die dinge waaroor ons bekommerd raak. Hy nooi ons om dit vir Hom te gee en te vra wat ons nodig het. Ek leer in die nag om Hom te vertrou vir die basiese dinge. Minder te kommer oor dinge waaraan ek min kan doen en Hom te vertrou vir vandag. Dalk is dit die rede dat ek rustig aan die slaap kon raak en steeds betyds wakker word.
My gebede trek skielik verder as my kinders by die toernooi. Dit bereik vroue en kinders in Ukraine. Manne, seuns en leiers. Mag Hy vandag brood voorsien, skuiling, hitte en vrede waar dit die nodigste is.
“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hul maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle.”
Ons Vader wat in die hemel is, laat U naam geheilig word, laat U koninkryk kom… sien ons wêreld tog raak, al die gebrokenis, die kwaadstokers en vredemakers…laat U wil ook op die aarde geskiet net soos in die hemel. En Here, gee ons ook vandag ons daaglikse brood….asseblief.