Meer as krummels

‘n Paar dae later het hy kom vra oor die sak klere agter in my kar. Dit was ou seunsklere wat ek wou gaan aflaai. Hy het dit gesien toe hy my kar was. Wil ek hom dalk seën met die klere, wou hy weet. Hy’t versigtig verduidelik dat sy sussie se seun omtrent 12 jaar oud is. Daar was ‘n rede hoekom ek al so lank met die sak ry, het ek gedink. Ek het die sak met ‘n glimlag weggegee.

Jaco Stydom noem in sy boodskap tydens ons Uitreik-Sondag dat jy 4 tipe mense kry. Díe wat net vat en steel. Die agtersitters wat oor alles kla en moan. Die krummel gee’ers…wat darem probeer om uit hul oorvloed ietsie te gee en laastens die groep wat uitgaan om werklik ‘n verskil te probeer maak…. My sak klere voel skielik so bietjie soos krummels wat ek uit my oorvloed weggee.

Wat maak ek hier, wil ek soms weet. Wat as ons kan ontdek dat ons juis hier is vir ‘n rede. Op hierdie plek. Vir ‘n tyd soos hierdie.  Koos Kombuis skryf ‘n aandoenlike stuk in die Burger op 12 Februarie hoe sy kar gaan staan het in ‘n dorp  waar baie van sy drome begin het en waarvan baie waar geword het. Nou bring die lewe hom terug na die nulpunt waar hy wakker word met ‘n leë gevoel. Daar is potholes in die paaie en skewe draaie. Baie dinge wat net nie wil werk nie. Dis op daardie nulpunt gedagte waar ‘n ou skoolvriend onverwags om die draai kom. Die lewe met al sy dinge bring sin wanneer mens langs ‘n pad gaan staan en ‘n ou vriend ontmoet. Saam kan lag oor dinge en tot die besef kom dat daar steeds soveel is om voor dankbaar te wees.

Terwyl ons oor hoërskole besin is die tema van die omgeegroep: God se wil. Ek onthou dan hoe ons jare gelede ook getob het oor God se wil toe ons tussen 2 laerskole moes kies.  Beide was goeie skole en ons is gelei waar ons ‘n huis gekry het. In my worstel het ek Sy stem gehoor: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou…”. Ek het besef dat Hy saam met hulle stap…

Op dieselfde uitreik-week vir grootmense hoor ons dat die Here juis ligdraers in die donker nodig het. Tog stuur ons graag ons kinders na die skole met die meeste olie en die baie lig. Sy wil? Maak ‘n verskil waar jy beweeg….en as jy kan, gaan skyn daar waar Sy lig die nodigste is.

Leef jou drome, reik uit maar wees waaksaam dat jou lewe nie net uit koek en krummels bestaan nie. Wees die lig ook daar waar dit swaar gaan. Saam met jou drome kom ook die potholes van die lewe. Dalk die plek waar jy ander weer moet raaksien. Ou vriende moet ontmoet en saam moet skaterlag. Die lewe waarvan ons so min verstaan.

Ken die Lig. Soms laat Hy jou 2 weke ry met ‘n sak klere in jou motor. Vir ‘n rede. Krummels vir jou is dalk koek vir ander. As ons kan ontdek dat ons hier is vir ‘n rede is daar nooit ‘n nulpunt nie. Elke dag het steeds ‘n sonsopkoms. Nuwe kanse, nuwe geleenthede. Mag ons minder moan en meer gee. Mag ons krummels groter word en ons skatte in die hemel al hoe meer…..

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories