Die regte deur
Watter deur maak jy oop? Die vraag op die radio laat my wyer dink. Die gesprek kom in die konteks van covid-19 waar baie deure outomaties toegemaak het. Deure van geleenthede en deure na mense. Die tyd is egter weer ryp om dinge oop te maak. Ons is dankbaar want kinders het nodig om deel te neem en almal het sosiale interaksie nodig. Vriende wat kan kom kuier.
Soos die kwartaalprogramme verskyn en my werk optel worstel ek egter met al die deure wat oopgemaak kan word. Ek het skielik ‘n kind op universiteit saam met ‘n hoërskoolkind en 2 besige bytjies in hul laaste laerskooljaar. Dis net so besig by die werk. Dit voel konstant of iemand al die deure wil oopmaak en ek diep moet asem haal. Wat moet ek inlaat en watter deur moet ek toehou?
Psalm 37 maak my altyd rustig. Dit gee rigting om op die Here se koers te bly. Vertrou op die Here, doen wat goed is, woon en werk rustig voort, vind jou vreugde in die Here. Dit klink makliker as wat dit lyk want ek sukkel met die woord rustig. Dis wanneer ek dit lees dat my prioriteite rigting kry. Eers die aartappels in die pot, dan is daar plek vir die ryskorrels…
In my stiltetyd die afgelope week staan ek stil by ‘n etenstafel in die Markus evangelie. Op ‘n manier sien ek iets raak van prioriteite. Eintlik gaan die verhaal oor Maria wat duur olie op Jesus se kop gooi. Die ete vind plaas in Simon, die melaatse se huis. Ek wonder oor hom. Sy lewe moes ‘n traumatiese draai gemaak het. Uit die samelewing verban en in afsondering. Tot Jesus op sy pad verskyn en hom genees. Hy gebruik die kans en nooi Jesus in sy huis. Aan die tafel is daar ook Laserus, wat letterlik ‘n tweede kans in die lewe kry. Immers uit die dood opgewek. Daar is Martha en Maria, die dissipels en ook Judas. Dis ironies dat die dissipels kla oor die duur olie wat vir 300 silwermunstukke verkoop kon word en Judas wat net daarna Jesus uitverkoop vir 30 munstukke. Almal saam met Jesus om die tafel. Simon het die regte deur oopgemaak. Almal het ingekom maar een het sy hart toegemaak.
Kyk ek na al die deure om my is ek opgewonde om baie oop te maak. Daarvoor is ons tog hier. Om geleenthede aan te gryp en kanse te benut. Om in die lewenstaxi te klim.
Baken jou koers af. Nooi Jesus in. Maak plek aan jou tafel en maak jou hart vir Hom oop. Daar is ‘n tyd om te gee en ‘n tyd om te neem. Maria het die kuns vervolmaak om by Jesus se voete rus te vind maar ook om duur olie op die regte tyd te bring.
Leef voluit maar word ook rustig. Sy antwoord vir my. Soms moet jy deure toemaak , soms oopmaak. Ek haal diep asem en baken my koers af, sit die aartappels in my pot en word verras deur al die ryskorrels wat wel ‘n plekkie kon vind. Wysheid begin met die dien van die Here.