Kan jy slaap in die storm? Nuwejaarsgedagtes

Die boer het ‘n handlanger gesoek. Daar was heelwat jong manne langs die pad en hy het vir ‘n paar gevra wat hulle kon doen. Een het vreemd geantwoord: “Ek kan slaap in winderige nagte.” Die boer het hom vererg en verbygeloop. ‘n Paar dae later het hy weer by die handlangers gestop. Dieselfde jong man was steeds daar, met dieselfde antwoord. Die boer het ‘n kans gevat en besluit om hom aan te stel.

Die jong man het goed gewerk en daar was nie probleme nie. Een nag egter het ‘n storm losgebreek. Die boer het wakker geskrik en na die jong man geroep. Hy het vasgeslaap. Vererg het die boer uitgehardloop om self alles te gaan regkry. By die hoenderhokke was die knip stewig vas en die hoenders rustig. Hy het na die skape en beeskraal gehardloop. Ook daar was die diere veilig en rustig. Elke hek was stewig en vas. Papsopnat en uitgeput het die boer by sy huis aangekom. Die jong man was steeds vas aan die slaap. Toe het die boer verstaan wat sy handlanger bedoel het…..ek kan slaap in winderige nagte….omdat hy altyd sy werk deeglik gedoen het.

Aan die vooraand van die nuwe jaar onthou ek skielik hierdie storie uit oom Attie se slaaptydstorieboek. Miskien omdat ek in my geestesoog met ou jaar altyd oorklim in die nuwejaarsboot. Soms klim mens in ‘n stormnag oor maar dikwels is die water kalm en onbekend. Niemand weet immers wat regtig op hom wag nie. Die probleem is dat die storm soms onverwags op jou pad kom en ons gereed moet wees. In die dissipels se geval was Jesus gelukkig saam met hulle in die boot…Die sleutel. Tog maak dit nie alles dadelik reg nie. Daar is net soveel angs en frustrasie terwyl Jesus slaap en dit voel of Hy nie omgee dat hulle vergaan nie. Uiteindelik staan Jesus op en die storms bedaar.

Ek skep ‘n paar dinge in vir my nuwe jaar. Doen jou werk getrou dat jy altyd gereed is. Bly naby Jesus. Klim saam met Hom in die boot. Vind jou vreugde in die Here en vertrou op Hom. May the Joy of the Lord be your strength. Moet oor niks besorg wees nie maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (Fil 4:6). Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is. Soek vrede en jaag dit na! (Ps 34:15). Die Gees wat God ons gegee het maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2Tim1:7) Laastens hou ek vas aan Jesus se afskeidswoorde: “En onthou: Ek is by julle tot die voleinding van die wêreld.” (Matt 28:20)

Ons leef in hierdie tye vir ‘n rede. Mag ons dapper in die boot klim met ‘n verwagting. Dis nie waar jy kyk wat saak maak nie, maar wat jy sien. Twee mense kyk by dieselfde venster uit…die een sien modder, die ander wys na die sterre. “Vir slegte tyding is Hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here”, Psalm 112:7

‘n Nuwe dag, ‘n nuwe jaar. The sun comes up its a new day dawning….its time to sing your song again. Whatever may pass and whatever lies before us…let me be singing till the evening comes!

Ons God is hier. Hy is lankal in die boot. Mag ons rustig slaap in winderige nagte. ‘n Gebed vir my en jou.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories