Die staldeur is vir almal oop
Hoeveel kos dit, wou ek weet. Hy het ‘n groot bedrag genoem en effens gesug. Hulle het so pas die laaste paaiement betaal. Volgende maand gaan hul weer probeer. Die inplanting het nie gewerk nie. Sy is steeds nie swanger nie….
Ek kon nie help om te dink aan die tienermamma wat my in die week kom sien het en ook die ander pasiënt met haar onwelkome derde swangerskap nie. Almal mense met unieke omstandighede. Voor my het iemand egter gesit met groot verlange na haar eie kind. Soos baie ander. Nog ‘n kersfees waar hul vir ander kinders persente sou koop. Ek het nie antwoorde gehad nie.
In die week voor kersfees luister ons na ‘n boodskap oor die herders. Mense vir wie die lewe ook moeilike kaarte uitgedeel het. Wat rondgeswerf het, vuil was en dikwels onwelkom gevoel het. Dan verskyn ‘n engel uit die bloute aan hulle en word hul genooi na ‘n krip in ‘n stal. Een van die min plekke waar herders tuis kon wees. Toevallig? God sien mense raak. Hy ontmoet hul by die plek waar hul is.
Jesus huil wanneer Hy Jerusalem binne ry op die donkie. “Omdat hulle die betekenis van die tyd toe God gekom het om te red, nie besef het nie…” “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is!” Jesus se uitroep tref my…
Kyk ek om my rond, is almal maar soekend. Soms is dit ‘n baba maar dikwels is dit liefde of aanvaarding wat ons ontwyk. Die wonder van Jesus se koms is dat Hy mens geword het. In ons wêreld. Daarom dat Hy ons in ons swakheid of seerkry kan ontmoet. Op die plek waar ons is. Selfs in ons twyfel. Sy geboorte in ‘n stal is vreemd maar nie toevallig nie. Herders én wyse manne kan Hom vind.
"In ons Suiderland ruis 'n Kersfeesklank
En die vlaktes hoor weer die englekoor.
Met die staldeur oop waardeur herders loop
Is die spoor te vind na die Redderkind.
Kersfeesliefde kom ons haal al het ons ook ver verdwaal.
Hy nooi almal uit: Vier dit wêreldwyd
Daardie stille nag was lank verwag...
Lei ons soos die Suiderkruis in die rigting wat U seun ons wys.
Met die ster vooruit vind ons ware suid.
Helder skyn die Jesus kruis." (Karoo-kerslied)
Die herders se omstandighede het nie verander nie maar in die Jesuskind het hul Hoop gevind. Die krip is die rigtingwyser na die kruis. Immanuel, God met ons. Ek dink vandag aan almal wat alleen is, swaarkry of worstel met dinge. Ek dink aan die drie vroue op my pad. Een wat ‘n mamma wil word, een wat te vroeg ‘n mamma geword het en een vir wie mamma wees te veel geraak het. Daar is ook ander mammas. Enkel mammas en mammas wat kinders verloor het. Ek het dikwels nie antwoorde nie en verstaan ook nie hoekom die lewe vreemde draaie met mense loop nie.
Mag ons in ons nietigheid die spoor vind na die Redderkind. Mag ons insien wat vir ons vrede nodig is en ontdek dat Hy ‘n pad saam met ons wil stap. Hy ontmoet jou in jóú omstandighede ….
Die staldeur is vir almal oop.